550 km van onvergeetlike Namakwa op ‘n tandemfiets
Terwyl Potchefstromers in Desember verlede jaar hulle vakansie by die see deurgebring het met heerlike kos en uitsoek geselskap, het twee ander Potchefstromers dit goed geag om die warm woestynwêreld op ’n tandemfiets aan te durf. Na verskeie hoogtepunte, uitdagings en ’n paar nuwe ervarings, het Cobus Steenkamp en Anina Schoeman na nege dae en …
Terwyl Potchefstromers in Desember verlede jaar hulle vakansie by die see deurgebring het met heerlike kos en uitsoek geselskap, het twee ander Potchefstromers dit goed geag om die warm woestynwêreld op ’n tandemfiets aan te durf.
Na verskeie hoogtepunte, uitdagings en ’n paar nuwe ervarings, het Cobus Steenkamp en Anina Schoeman na nege dae en 550 kilometer op ’n Avalanche ENVI 29er fietssaal, hul tandem fietstoer in die Noord-Kaap en Namibië op 21 Desember uitasem klaargemaak.
Dié toer was ten bate van die Abraham Kriel Kinderhuis en die Amelia Nasorgsentrum en die doel was om fondse voor Kerstyd in te samel. Verder het dit ook ’n besondere avontuur vir Anina en Cobus ingehou – iets waarna hulle lank en met goeie herinneringe gaan terugkyk.
“Kyk, dit was vir jou nogal hard en moeilik in sommige dele, maar die rustigheid en natuurskoon was iets uit ’n ander wêreld.
“Dit was wel soos ’n groen oase by Sheppard’s Lodge. Die hitte was erg, maar ons kon darem in die see en in die Oranjerivier swem om die hitte van die Namakwalandse woestyn te verminder,” meen Cobus.
“Die afstand, warm weer en wind was groot struikelblokke vir my wat nie gereeld fietsry nie. Ons het mekaar moed ingepraat en baie gesels. Daar was baie tyd vir lekker gesels. Ek kon dit ook regkry dat Cobus saam met my sing,” sê Anina grappenderwys.
Al was hulle stoksielalleen op hulle toer vir lang dele, kon hulle ook die gasvryheid van die Namibiese- en Noord-Kaapse mense ten volle beleef.
“Die mense was so vriendelik en wou net help waar hul kon. Ons het die soetste druiwe geëet toe ons in Aussenkehr was. Ons het tot ’n paar Potchefstromers op ons toer raakgeloop. Een van die ouens het my sommer ’n bier vir die lafenis gegee,” vertel Cobus.
Verder het die paartjie se wa wat hulle saamgetrek het, ook gebreek, maar gelukkig kon plaasmense in die omgewing ’n hand bysit en die volgende dag was hulle weer reg vir die lang pad.
Volgens Cobus en Anina is so ‘n tandemfiets-avontuur ideaal om die natuur en landskap op jou eie behoorlik te verken.
“Dit is wel belangrik om ’n goeie spanmaat te hê op die fiets en om die roete ekstra lekker te maak,” sê Cobus terwyl hy ’n vinnige knipoog na Anina se kant toe maak.
“Jy moet ook baie vertroue in jou spanmaat hê – iets wat ek moes doen met Cobus wat die leiding op ’n paar moeilike afdraandes gevat het. Ek het lekker geskree,” lag sy. Om so ‘n roete te oorleef, is voorbereiding ook van baie groot belang,” voeg Kobus by.
“Jou sitvlak moet goed voorbereid wees. Jy moet genoeg water en ’n verskeidenheid kossoorte hê. Ons het in ’n stadium genoeg gehad van neute en sjokolade, omdat ons dit so aanhoudend geëet het! Dit was ’n fantastiese belewenis,” sê hulle.





