Een van die verdagtes in plaasaanval het op boer se plaas gewoon
Die staatsaanklaer, Caswell Ntoyi, het bekend gemaak dat een van die verdagtes, op Marx se plaas gewoon het en dié as sy permanente woonadres aangegee het.
Daar was vanoggend verskeie interessante verwikkelinge in die plaasaanval-saak van Donovan Marx (50), toe vier verdagtes vir die eerste keer in die hof verskyn het.
Marx is verlede Woensdag (28 Oktober) op sy plaas aangeval en gemartel, waarna sy ore afgesny is. Die verdagtes is oor die naweek vasgetrek danksy goeie samewerking tussen die SAPD en die plaaslike gemeenskap.
Die staatsaanklaer, Caswell Ntoyi, het bekend gemaak dat een van die verdagtes, op Marx se plaas gewoon het en dié as sy permanente woonadres aangegee het.
Ntoyi het egter aangedui dat die staat dié adres as geldige woonadres vir doeleindes van die borgaansoek teenstaan, aangesien dit die klaer, Marx, se eiendom is. Die ander drie verdagtes het woonadresse in Promosa verskaf.
Die verdagte het daarna aan sy regsverteenwoordiger ’n ander adres van ’n boer in die Potchefstroom-distrik verskaf.
Die staat het aangedui dat hulle eers tyd benodig om die verdagtes (Phindile Nomngcayi (29), Godfrey Mathipa (56), Thomas Motlhonglong (27) en Jan Maishone (53) se adresse en kriminele rekords na te gaan voordat die borgaansoek op 13 November aangehoor word.

Een van die verdagtes, is ook voorheen aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind. Die ander drie het na bewering geen kriminele rekords nie.
Volgens die distriklanddros, Trevor Leballo, kan die verdagtes weens die erns van die misdade tussen 15 jaar en lewenslange gevangenisstraf opgelê word indien hulle skuldig bevind word.
Al vier verdagtes bly in aanhouding.
Hier is die verloop van sake:
- Donovan word Woensdag op sy plaas aangeval (28 Oktober)
- Beloning verskaf om Marx se aanvallers op te spoor (30 Oktober)
- Twee verdagtes word vasgetrek (31 Oktober)
- Nog drie verdagtes vasgetrek (1 November)
- Verdagtes verskyn in die hof (3 November)
AfriForum maak stem dik
Vroeër het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, ook gesê dat president Cyril Ramaphosa se stilswye daarop dui dat plaasaanvalle nie ’n prioriteit geniet nie.
“Ons stuur ook ’n baie duidelike boodskap aan president Cyril Ramaphosa. Hy het nie die voorval veroordeel nie. Daar was tot dusver nie ’n enkele woord daaroor nie.
“Hy weier tot vandag toe om die slagspreuk ‘Kill the Boer, Kill the Farmer’ te veroordeel. En ons weet almal wat dit beteken. Dit is ’n oproep tot etniese geweld teen Afrikaners en boere.

“Die minste wat hy kan doen, is om dit te veroordeel. Nou dat die president dit nie veroordeel nie, kan ons nie anders as om te dink dat hy dit aanvaarbaar vind nie.”




