Boet Vorster: Volkies se legende kry erkenning
Een naam wat in die geskiedenisboeke van rugby en krieket by Hoër Volkskool gereeld opduik is dié van Boet Vorster. Rugby en krieketspanne wat deur hom afgerig is het die destydse Administrateursbeker vir rugby en krieket in die destydse Transvaal gereeld ingepalm. Sy krieketspanne het die Administrateursbeker vyf jaar agtereenvolgens gewen. In 1963 het die …
Een naam wat in die geskiedenisboeke van rugby en krieket by Hoër Volkskool gereeld opduik is dié van Boet Vorster.
Rugby en krieketspanne wat deur hom afgerig is het die destydse Administrateursbeker vir rugby en krieket in die destydse Transvaal gereeld ingepalm. Sy krieketspanne het die Administrateursbeker vyf jaar agtereenvolgens gewen. In 1963 het die krieketspan ook Potch Boys High vir die eerste keer in 23 jaar geklop – dié keer met 5 paaltjies.
Die 1965 eerste rugbyspan het in die finaal van die Administrateursbeker op Loftus Versfeld, met ‘n swak skeidsregter verloor. Dit nadat hulle in die laaste minuut ’n vaskop gehaak en Jaguar de Jager ‘n drie gedruk het wat die skeidsregter nie toegeken het nie.
Die klas van 1965 het besluit om vir oom Boet – wat weens beroerte moeilik praat – dankie te sê vir wat hy in hulle lewens beteken het. Saterdag 12 Maart het die manne vanaf Bloemfontein, Pretoria, Rustenburg, Lichtenburg en Kaapstad af Potchefstroom toe gekom. Van die wat nog leef kon net een dit nie bywoon nie. Vier is al oorlede.
Met die weersiens het ouens van naby aan die 70 trane in die oë gekry toe hulle oom Boet en sy vrou, tannie Mariaan, groet. Toe het die manne oor oom Boet en sy betekenis in hulle lewens gesels. Die goue drade wat regdeur geloop het, was die voorbeeld wat hy gestel het, sy eerlikheid en vertroue wat hy in sy spanne gehad het. Meer as een het beklemtoon dat hy ‘n rolmodel vir hulle was. Die deernis vir oom Boet was opvallend.
Boet Vorster is ’n lewende legende.



