Op patrollie in Potchefstroom: Dwelms bly steeds die grootste probleem
Terwyl meeste van die stad se mense slaap, patrolleer ons die strate. Daar is nie te veel oproepe wat met inbrake verband hou nie. Dalk het die buurtwag patrolliegroepe in Bailliepark en Miederpark ’n positiewe invloed op dié soort misdaad.

Saam met Mooirivier Beskerming op patrollie:
Terwyl meeste van die stad se mense slaap, patrolleer ons die strate. Daar is nie te veel oproepe wat met inbrake verband hou nie. Dalk het die buurtwag patrolliegroepe in Bailliepark en Miederpark ’n positiewe invloed op dié soort misdaad. ’n Polisievoertuig ry verby ons, groet beleef, hulle ken al die Mooirivier voertuie. Die buurte is stil, niks te verdag nie. Dan sien ons die Golf GTI, GP nommerplate, donker getinte vensters, maar die mees opvallendste ding van die voertuig is die snaakse draaie wat hy deur die Bult ry. Ons besluit om die kar te volg net om te kyk wat maak hy. Hy stop by ’n petrolstasie se winkel, ’n man klim uit, koop koeldrank, klim terug in sy kar.
Met ’n spoed is hy daar weg. Sonder dat hy agterkom, volg ons hom tot waar hy stilhou, ’n kuierplek in die middedorp. ’n Jong vrou kom uit die plek, stap oor die pad, daar is ’n vinnige interaksie en iets ruil hande. Toe die vrou weer terug is in die kuierplek, ry die man in sy Golf weer weg. Ons het nou net ’n “drug deal” gesien gebeur. Dit sal ook nie die laaste vir die aand wees nie.
Op pad terug na die woonbuurte toe ry ons verby ’n ander kuierplek in die middestad. Hier het ’n bakleiery uitgebreek tussen ’n klomp van die mense. Dit het uitgekring tot in die straat. Die uitgooiers is tussenin, maar kan nie oral keer nie. Houe word met die kop uitgedeel, twee van die manne slaan een ou wat baie kleiner as hulle is. Niks goeds gebeur na middernag nie.
Ons is nie net toeskouers nie, Mooirivier moet hulle kliënte se persele wat dalk in die spervuur kan eindig, beskerm. Die bakleiery raak stil, so ons ry weer in die stad rond, ’n draai in Reitzstraat, waar daar huise is wat bekend is as dwelmhuise. ’n Ouer model Citi Golf sonder nommerplate staan voor een van die berugte huise. Ons weet dadelik wat hulle hier doen. Ons beweeg terug Bult toe omdat dit die enigste deel van die stad is wat nog lewe. ’n Kuierplek hier het tot 04:00 ’n lisensie om ‘n besigheid te bedryf. So bekyk ons die jongmense soos hulle op die Bult rondskarrel, hier en daar besluit van die mense dat hulle nie kan bestuur nie, so hulle loop terug huis toe, drie tree vorentoe, drie na links en twee agtertoe.
Daar stap ’n hele groep jong mans na die parkeerarea, hulle onderhandel met een van die karwagte. Dit is bekend dat die karwagte dwelms verkoop of ten minste as ’n middelman optree vir diegene wat navraag doen oor dwelms. Daar is baie onderhandelings, naderhand word nommers uitgeruil en die groep verdwyn weer.
Die vermoede is dat hulle op ’n ander plek bymekaar gaan kom om die dwelms te koop. Dwelmgebruik is nie ’n probleem uniek aan Potchefstroom nie, maar dit bly ’n groot probleem wat ons sover moontlik moet probeer uitroei.
Lees vorige patrollies hier
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/5825/op-patrollie-in-potch/
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/2703/op-patrollie-in-potchefstroom-2/
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/2037/op-patrollie-in-potchefstroom/



