“As jy nie die man kan identifiseer nie, help dit nie jy lê ‘n klag nie.”
Dit was glo die woorde van ’n polisiekaptein aan Nicoleen Pretorius, wat ‘n klag by die polisie wou lê nadat ‘n man glo probeer het om haar te verkrag.
Volgens Nicoleen het sy die Woensdagmiddag omstreeks 14:00 huis toe gestap.
“Ek het net in Kanaalweg ingekom waar ’n groot vullishoop langs die pad is, toe ek ’n man agter die vullishoop sien uitkom. Sy broek was voor los, ek het gedink hy wil daar urineer. Ek sê toe vir hom nee sies man, waarop hy gesê het dat hy net vir my wag.”
Volgens dié 35-jarige ma het die man haar gegryp, teen die grond gegooi en aan haar klere begin ruk.
“Ek het met alles wat ek het baklei en aanhoudend vir hom geskree, ‘jy gaan my nie verkrag nie, jy gaan dit nie regkry nie’,” sê sy. Die man het besef dat Nicoleen nie gaan ophou baklei nie en het haar selfoon gegryp en gevlug. Sy moes met beserings en geskeurde klere tot by haar huis stap. Nicoleen se dogter het haar vergesel na die polisiestasie. “Ek was nog in skok en het gesukkel om te loop omdat my knieg tydens die aanval seergekry het,” vertel sy. Volgens haar het sy met ’n vroue kaptein gepraat wat glo vir haar gesê het dit help nie om ’n saak oop te maak as sy nie die man kan identifiseer nie. “Ek was erg geskok en het maar besluit om net huis toe te gaan. Dit maak mens kwaad, maar ek besef darem dat nie alle polisielede so is nie. Die kaptein het belowe om my besonderhede te neem en te reël dat daar ekstra patrollies in die area gedoen word. Ek sukkel steeds om in die aande te slaap,” sê sy.
Die betrokke kaptein het intussen die vrou persoonlik gaan besoek om ‘n saak oop te maak.



