Kinderbeskermingsweek vind vanjaar vanaf 29 Mei tot Junie plaas en RATA Maatskaplike Dienste (voorheen bekend as die Ondersteuningsraad) gaan lesers oor die volgende drie weke meer hieroor vertel.
Kindermishandeling word in vier kategorieë verdeel:
Fisiese mishandeling is wanneer ‘n kind deur ‘n volwassene fisies beseer word (wonde, bloukolle, frakture), wat die kind slaan (met hand, stok, belt of ander objek), skop, byt, skud, teen iets vasgooi of stamp, steek (mes of enige skerp voorwerp) of brand (sigaret, plaat, strykyster).
Emosionele mishandeling is ‘n gedragspatroon wat ‘n kind se emosionele ontwikkeling en selfwaarde negatief beïnvloed. Gedrag soos konstante kritiek, dreigemente, verwerping, manipulering en weerhouding van liefde en ondersteuning, is voorbeelde hiervan.
Seksuele mishandeling is wanneer ‘n kind gedwing, gemanipuleer of vergoed word om aan ‘n volwassene seksuele genot te verskaf. Dit sluit afloer, betasting, molestering, seksuele omgang/verkragting of blootstelling aan pornografie in. Opsetlike verwaarlosing is wanneer daar nie aan die kind se basiese behoeftes voldoen word nie. Dit kan fisies (onvoldoende kos, klere, skuiling of toesig), medies (ontvang nie mediese behandeling), opvoedkundig (kind woon nie skool by), of emosioneel (onvoldoende aandag aan die kind se emosionele behoeftes en laat hom/haar toe om alkohol of substanse te gebruik) van aard wees.
Indien enige mishandeling of opsetlike verwaarlosing plaasvind kan ‘n kind uit die ouers/voogde se sorg verwyder word ten einde die kind te beveilig.
Indien u bewus is van enige kindermishandeling, skakel RATA Maatskaplike Dienste by (018) 293 0463 of e-pos luce@rata.org.za. Word gerus deel van ons Facebook groep!



