Dié mens agter Aardklop
Na afloop van die bekendstelling van die nuwe feesbestuurder vir die “nuwe” Aardklop, het Potch Herald besluit om te gesels met Alexa Strachan, die nuwe gesig van Aardklop. Ons het ook uitgevind wie is die mens wat hierdie groot taak aanpak en ons fees gaan terugbring na sy vorige glorie.

Na afloop van die bekendstelling van die nuwe feesbestuurder vir die “nuwe” Aardklop, het Potch Herald besluit om te gesels met Alexa Strachan, die nuwe gesig van Aardklop. Ons het ook uitgevind wie is die mens wat hierdie groot taak aanpak en ons fees gaan terugbring na sy vorige glorie.
Ek het tien vrae aan Alexa gestel om uit te vind wie is die dinamiese persoon en wat laat haar “tick”.
1. Wie en wat is jy? Vir diegene wat nog nie weet
Behalwe dat ek die trotse, baie opgewonde feesbestuurder van die Potchefstroom Kunstefees is, ook ’n ma van vier kinders en begin altyd hier: So ek is ’n ma, ’n teatermaker, ’n fanatiese krieketkyker, en weens my insomnia, ook ’n laatnagkyker van my gunsteling flieks.
2. Hoe voel dit om jouself terug te bevind in Potchefstroom?
Ek het 13 jaar van my lewe hier deurgebring. Iets van die plek waar mens jou skooljare deurgebring het, bly vir altyd met jou. Mense wat deel was van jou vormingsjare en jou lewe vir jou oop- en moontlik gemaak het, bly ook immer vassteek. So dit maak nie saak hoe die dorp verander nie, dit bly vir mens ’n tipe tuiskoms. Ek wonder egter of ek steeds vanaf Baillie Park af met my fiets oor die rivier sal kan ry tot by Volkies. Ek twyfel.
3. Dink jy die feit dat jy ‘n vervaardiger, skrywer en nog vele meer is, het jou ‘n unieke voorsprong op die bestuur van die fees gegee?
Ek is dankbaar oor my wye ervaringsveld, want omdat ek self aan die kunstenaarskant staan, het ek baie begrip vir die uitdagings, probleme en sienswyses van kunstenaars. Ek glo ook dat kunstenaars gemaklik voel wanneer hulle saam met iemand werk wat hul bedryf en realiteit verstaan.
4. Wat is jou visie en vooruitsigte met die fees? Ons is tans besig om aansoeke en voorstelle te verwerk. Wat ek wel solank kan noem is dat ons ’n baie sterk en opwindende program saamstel. Mense gaan produksies sien wat hulle nie andersins in die omgewing sou kon sien nie. Ons wil teen einde Junie / begin Julie die program bekendmaak, sodat ons kaartjieverkope teen Julie kan begin. Mense wat steeds aansoeke wil indien, moet asb. gou spring. Daar is twee adresse: potchfeesprogram@gmail.com, en potchfeesstalletjies@gmail.com. Sodra ons kantoorlyne ingerig is, sal ons die nommer ook bekendmaak.
5. Daar is baie spekulasie rondom waar die fees gaan en moet wees? Hoe voel jy oor die punt?
Ons gaan verseker die feesterrein terugskuif na die Bult. Ek dink die Potchefstromers het gevoel dat die hart van die fees daar hoort. Ons ondersoek tans die kostes daaraan verbonde, en gaan dit ook binnekort bekendmaak.
6. Waarna sien jy die meeste uit van die nuwe uitdaging?
Dit sal vir my wonderlik wees as die breë Potch-gemeenskap deel is van die fees. Dis immers hulle dorp, hulle moet betrokke raak, eienaarskap neem, opgewonde wees dat ons hier is. As ek na afloop van die fees e-posse vanuit die gemeenskap ontvang wat sê: “Welgedaan, ons sien julle volgende jaar weer,” sal ek erg gelukkig wees. Ek sou ook graag sien dat die omliggende dorpe se mense fees toe stroom
7. Hoe het jy jou liefde vir die kunste ontdek?
Hoe gaan die Abba-liedjie – “Mother said I could sing before I began to talk” dink ek? Ek laat die dansdeel van die liedjie uit, want ek kan nie dans nie. Ek het altyd gevoel ek hoort op ’n verhoog, of langs of agter hom. In my laerskooljare het die destydse PUK Drama Departement wonderlike produksies aangebied – “Sound of Music” was my eerste, ek was 10 jaar oud. En Awie van Wyk het die destydse Wes-Transvaalse Jeugkoor afgerig. Onontbeerlike ervarings. Van daar af was dit eintlik ’n logiese uitkoms.
8. Wat het jou laat besluit om dit jou loopbaan te maak?
Ek kan gewoon niks anders doen nie. Mens kan net doen wat jy kan doen. Ek is geseënd – my werk is my passie.
9. Watter kuns geniet jy die meeste, visueel, toneel ens?
Sjoe, nee. Ek kan nie daai vraag antwoord nie. Dis soos om te moet kies tussen jou kinders.
10. Wat is die beste vertoning wat jy nog ooit gesien het?
Weer eens baie baie moeilik. Maar kom ek kies Les Miserables en War Horse. As jy my môre vra, het ek dalk ’n ander antwoord.
Alexa het ’n energie en passie vir die kunste aan haar wat oorloop in haar woorde. Iets wat sekerlik die grootste pluspunt is as jy so ‘n fees moet bestuur. Hierdie oud-Potchefstromer gaan Aardklop weer vuurwarm laat brand.



