Die polisie het inwoners gewaarsku om op die uitkyk te wees vir mense wat wasgoed van drade af steel.
Volgens ao Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, blyk dit dat die probleem in veral Walter Sisulu en James Morokastraat voorkom. Die afgelope week is twee sake gerapporteer waar mense se klere van die wasgoeddraad af gesteel is.
‘n Man het verlede Vrydagoggend omstreeks 07:00 sy wasgoed by sy woonstel in Walter Sisulustraat opgehang. “Omdat hy al van te vore deur geloop het, het hy kort-kort gaan kyk of die klere nog daar hang,” het Manyoba gesê.
Teen 13:00 het die man weer gaan kyk en die klere was weg. Op dieselfde dag in James Morokastraat het ‘n vrou omstreeks 11:40 besef dat haar klere ook weg was. Sy het die klere opgehang voordat sy werk toe gegaan het.
Volgens Manyoba het verskeie mense in woonstelkomplekse in dié strate ook gesê dat hulle al dieselfde ervaar het.



