Verskeie inwoners het woedend op Facebook gereageer nadat twee baba hondjies die naweek op ‘n hoop vullissakke gevind is.
‘n Inwoner van die Wilgeboomhoewes, Tinus Steyn, het Saterdagoggend op pad terug na sy plaas vullissakke langs die pad gesien. Toe hy nader gaan het hy twee great dane hondjies van sowat drie maande oud bo-op die hoop swartsakke gesien sit.
“Ek was geskok toe die twee gesiggies vir my kyk,” sê hy.
Steyn het dadelik die hondjies na PAWS (Potchefstroom Animal Welfare Society) geneem.
“Ek wou die hondjies hou, maar my vrou het onlangs ook ‘n hondjie langs die pad opgetel wat ons aangeneem het. Ons het reeds vier honde en kan nie nog twee aanneem nie,” sê hy.
“Ek kon die aand nie slaap nie, want ek kon nie die twee gesiggies uit my kop kry nie.”
Die hondjies, ‘n swart en wit reuntjie en ‘n grys gespikkelde tefie, was baie verwaarloos. Albei was baie vuil en uitgehonger.
PAWS het op Facebook gevra of iemand die hondjies wil aanneem. ‘n Facebook-gebruiker, Mari Delport Roets, het dadelik aangebied om die hondjies in pleegsorg te neem.
Sy gaan egter binnekort met vakansie en moes die hondjies oorgee aan ‘n diereliefhebber om dié boetie en sussie in hul huise en harte in te laat.
“Dit breek my hart as mense so gevoelloos optree,” het ‘n bekommerde inwoner op Facebook gesê.
Volgens PAWS is die hondjies reeds aangeneem. Vir meer inligting oor hoe om honde of katte aan te neem, skakel PAWS by (018) 294 3856 of 071 681 9264.



