‘n Babakatjie is Dinsdag 21 Junie gered nadat sy vir meer as ‘n dag binne ‘n muur by Gimmies vasgevang was.
Skoliere het Maandag die katjie hoor miaau terwyl hulle in die saal besig was om eksamen te skryf, maar niemand kon vasstel waar dié geluid vandaan kom nie.

Tydens Dinsdag se eksamen het die leerders weer die kat gehoor en Gimmies personeel het toe na die katjie begin soek. Hulle het na etlike ure vasgestel dat die katjie in die muur langs die pyporrel vasgevang is.
‘n Faktotum het vir sowat twee ure probeer om by die katjie uit te kom, maar helaas het die skool PAWS (Potchefstroom Animal Welfare Society) geskakel om te kom help.

Personeel van PAWS en Gimmies het van 12:30 tot 15:30 gesukkel om die katjie uit die muur te kry. Hulle moes ‘n baksteen uit die muur kap sodat die katjie daardeur kon klim. Hoewel die katjie geen sigbare beserings het nie, lyk dit wel asof sy moontlik geval het en daarom harsingskudding kan hê. Dit verduidelik moontlik die katjie se skeel ogies.
Na sy veilig uit die muur gered is, is die katjie van sowat ses weke oud deur Ano Fouché aangeneem, ‘n Gimmie-leerder wat gehelp het met die redding.

Ano het die katjie, ’n Siamese kruising, Orrel gedoop, aangesien sy langs die orrel vasgevang was. Volgens Andries Venter van PAWS lyk dit nie soos ‘n straatkat nie, maar eerder ‘n huiskat se kleintjie. Die katjie lyk gesond, maar PAWS gaan haar inent en ontwurm en verder ondersoek vir moontlike beserings.
Dit is baie belangrik dat mense hul troeteldiere laat steriliseer”, sê Venter.



