Die eienaars van North West Refrigeration and Electrical het groot verliese gely toe twee van hul werkers die onderneming se naam vir hul eie gewin gebruik het.
Volgens Anne-Marie Botha, eienaar van die onderneming, het sy agtergekom iets is nie pluis toe sy van hul bemarkingsmateriaal in die stad gesien het.
“Dit het vir my snaaks gelyk en toe ek dit van nader beskou, het ek besef dat die telefoonnommers wat daarop is, nie ons s’n is nie,” het Botha gesê.
Sy het een van die nommers geskakel waarna sy by een van hul werkers uitgekom het.
Botha het ’n klag van bedrog by die polisie gaan lê en kort daarna het speurders die twee werkers in hegtenis geneem.
“Ons het later ’n ooreenkoms met hul aangegaan dat hulle die verliese wat ons gely het, moet terugwerk en indien hulle enige ander privaat werk doen, hulle weer in hegtenis geneem sal word,” het Botha gesê.
Volgens haar man, Manie, het dit hul hard getref.
“Ons het baie geld verloor en ons weet ook nie hoeveel mense gebruik dalk nog die verkeerde nommers nie,” sê hy. Die paartjie sê die bank wil hul voertuig terugneem en dat hulle moontlik hulle huis kan verloor.
Die werkers het glo die plakkate wat hulle in die stad opgesit het, afgehaal en met gekopieerde weergawes vervang waarop hulle eie nommers aangebring is. “Die regte nommers waar mense ons kan skakel is 078 446 4465 of 078 286 9909,” sê Botha.



