’n Damestudent wat na bewering in ’n manskoshuis deur ’n mede-student verkrag is, meen die universiteit het haar geensins in haar tyd van nood ondersteun nie.
“Hulle het niks vir my gedoen en my glad nie ondersteun nie. Ek voel hulle het my verkragter beskerm, want hy woon nog klas by en woon steeds in die koshuis. Hulle het niks vir my gedoen om my te help om my studies voort te sit nie,” vertel die student, wat anoniem wil bly. Sy beweer sy is in Februarie in ’n manskoshuis deur die betrokke student verkrag. Die saak is by die polisie aangegee maar is uiteindelik teruggetrek op aanbeveling van haar psigiater. Om aan te gaan met die saak sou glo meer sielkundige skade aan haar doen. Volgens haar advokaat is dit ‘n moeilike saak vir sowel die staat en die verdediging, omdat dit ’n enkelgetuie situasie is.
“Die hof het sekere maatstawwe waaraan voldoen moet word, maar net omdat die saak teruggetrek is, beteken dit nie noodwendig dat die manstudent onskuldig is nie,” het die advokaat gesê.
Volgens haar was sy en die manstudent slegs vriende. Die twee het die aand in Februarie glo saam gekuier, waarna hulle saam na sy koshuiskamer is.
“Ons het gaan kos koop, ek het gedink ons gaan buite die klubhuis sit en eet,” vertel sy.
Die man het haar egter na sy kamer genooi vir koffie. Volgens haar het hy na ’n rukkie die kamer verlaat en met sy terugkoms het haar nag van angs begin.
“Hy het die lig afgesit, die deur toegemaak en my begin verkrag. Ek het vir hom gesê nee ek wil nie, maar hy het net aangehou. Na ’n rukkie het hy opgehou. Hy sê toe vir my dat ek so tekere gaan dat mens sou sweer ek word verkrag. Ek het vir hom gesê wat hy doen is verkragting, maar hy het net gesê dat hy nou klaar begin het, so ek kan maar stilbly en dat hy klaarmaak,” vertel die student.
Sy beweer sy is drie keer verkrag terwyl sy in die kamer was.
Uit vrees het sy alleen in die kamer agtergebly en eers die volgende oggend die koshuis verlaat. Sy is terug na haar woonstel waar sy haar broer vertel het wat gebeur het.
“Ek het in my kar gesit en huil, ek het nie geweet wat om te doen nie,” vertel sy. Saam met haar broer is sy polisiestasie toe om ‘ne klag te gaan lê. Na 13 ure wat sy die storie oor en oor moes vertel, deur ‘n mediese ondersoek moes gaan en haar vermeende verkragter in persoon moes uitken, was dit die eerste geleentheid wat sy kon kry om te stort na die voorval.
“’n Verteenwoordiger van die Puk se Ingryp-dienste het vir my en my ouers gesê om huis toe te gaan, sy sal reël dat ek my klaswerk by my dosente kry. Ek het nooit enige iets ontvang nie,” vertel sy. Die student is die volgende dag weens post-traumatiese stres in die hospitaal opgeneem. In die tyd het sy glo probeer om haar klaswerk in die hande te kry met verskeie oproepe na Ingryp-dienste, wat onbeantwoord gebly het.
“In daardie tyd het ek die koshuisvader van die manskoshuis geskakel om te hoor wat is die stand van sake. Hy het vir my gesê hy is bewus van die saak, maar dat hy nie die mag het om die student uit die koshuis te skors nie,” vertel die student.
Sy sê drie weke na die voorval was daar nog geen amptelike rekord by die Puk geopen nie, hoewel beskermingsdienste bewus was van die saak en die manstudent op die koshuisgronde in hegtenis geneem is.
Intussen het die student se advokaat ’n aanmaningsbrief aan die Puk gerig om onder meer haar klasgelde terug te eis omdat sy haar studies moes staak. Volgens die advokaat is die Puk twee weke kans gegee om te reageer op die brief, wat hulle toe nie gedoen het nie.
“Ek voel die student word beskerm, hy gaan aan met sy lewe asof niks gebeur het nie en my lewe het onherroeplik verander. ‘n Platoniese afspraak om koffie te drink saam met ‘n ‘vriend’ het ontaard in ‘n nagmerrie,” vertel sy.
Die manstudent is in hegtenis geneem en is twee dae later borgtog van R2 000 toegestaan.
“Hy het die betrokke dag wat die saak in die hof voorgekom het, en toe deur die staat teruggetrek is, uit die beskuldigdebank vir my gelag.
“Ek wou net hê die rektor moes ‘n woord van medelye aan my en my gesin gee en verduidelik wat hulle gaan doen omtrent die saak, maar is heeltyd ‘n afspraak met hom geweier.
“Die koshuisvader beweer in ‘n verklaring dat ek ‘n persoonlike vendetta teen die student het.
“Ek kan verstaan waarom meisies kies om eerder stil te bly en hulself hierdie vernederende proses te spaar,” sê sy.
Die Noordwes-Universiteit het bevestig dat hulle ‘n skrywe van die betrokke damestudent se regsverteenwoordiger ontvang het.
Sy versoek dat die klasgelde wat aan die begin van die jaar vooruit betaal is, aan haar terugbetaal moet word omdat sy haar studies intussen gestaak het.
“Sy het haar registrasiegelde en die hele jaar se klasgelde vooruit betaal. In terme van die Noordwes-Universiteit (NWU) se finansiële beleid word die tweede semester se gelde aan haar terugbetaal.
“Ek kan wel bevestig dat daar in hierdie geval géén gekwantifiseerde eis van skadevergoeding teen die NWU ingestel is nie,” het Johan van Zyl, skakelbeampte van die NWU se Potchefstroomkampus gesê.
“Die universiteit is in gesprek met haar regsverteenwoordiger. Daar word nog oorweeg of daar enige stappe teen die betrokke manstudent geneem sal word, aldan nie. Dit sal afhang van die uitkoms van die ondersoek wat tans nog aan die gang is. Dié voormalige damestudent beskuldig onder meer verskeie personeellede van ‘n gebrek aan hulp of diens, maar dit word nog ondersoek. Sover blyk dit ongegrond te wees,” het Van Zyl gesê.



