
‘n Vierdejaar student in grafiese ontwerp aan die NWU se Potchefstroomkampus, het op 27 Augustus gesterf toe ‘n voertuig hom by ‘n voetoorgang by Kaapstad se internasionale lughawe getref het.
George Schoeman was deel van ‘n groep NWU studente wat die kykNET Silwerskermfees in Kaapstad bygewoon het. Hy en sy medestudente het saamgewerk aan ‘n film as deel van hul kortfilmprojek. Hulle het hulself Mos Films genoem. George het daar die pos as assistent-regisseur en klankingenieur beklee.
Volgens Johan van Zyl, woordvoerder van die NWU se Potchefstroomkampus, is hy op slag dood toe hy deur die voertuig getref is. George se ouers woon in Dubai en het glo eers Maandag in die Kaap aangekom.
Prof. Fika Janse van Rensburg, kampusrektor, het sy simpatie teenoor sy ouers en vriende uitgespreek.
‘n Goeie vriendin en mede-student van George, Carolien van Milligen, sê George was ‘n staatmaker en iemand wat altyd ander se dag opgekikker het met sy grappies.
“Hy het my altyd gehelp met my projekte as ek sukkel. Hy was baie musikaal en ons het gereeld saam musiek gemaak. Hy was my beste vriend.”
“Ek was baie lief vir hom en hy sal vir ewig ‘n baie spesiale plekkie in my hart hê,” sê sy.



