Op Maandag 29 Augustus is drie babakatjies na PAWS (Potchefstroom Animan Welfare Society) geneem nadat hulle in ‘n brand beseer is.
Die katjies, omtrent ses weke oud, was in ‘n brand in ’n veld vasgekeer wat by die Mooirivier Kleinhoewes ontstaan het.
Chanel Buitenbag, wat naby die veld woon, het dadelik die brand begin blus.
“Terwyl ons besig was het ek die katjies gehoor,” sê sy. Sy het die katjies na PAWS geneem.
Die veearts, dr. Stallone Terera, het onmiddellik na die katjies omgesien. Die meeste van die katjies se hare was afgebrand en een het ernstige brandwonde aan die gesig gehad.
Met die Herald se besoek aan Paws die volgende dag het net een nog geleef. Die katjie is tans in PAWS se hospitaal. Hoewel sy nog baie verskrik is, het sy geen ernstige beserings nie. Om skenkings aan Paws te maak, skakel (018) 294 3856.



