’n Vrou wat daagliks sowat 300 straatkatte in Potchefstroom voer, is Saterdagaand deur twee jongmense aangerand omdat sy hul gevra het om hul motor se ligte flouer te stel.
Nina Burger staan in Potchefstroom bekend as die ‘kat tannie’. Sy het in 1999, terwyl sy nog op die NWU se Potchefstroomkampus gewerk het, begin om straatkatte te voer. Sy het eers al die honger katte op kampus gevoer en later ander plekke ook. Deesdae voer sy katte oral in Potchefstroom deur vir hulle kos te koop uit haar maandelikse pensioen en ’n skenking.
Toe sy Saterdagaand met haar bromponie in Presidentstraat op pad na die NWU hek ry waar sy die katte gaan voer, het daar ’n motor van voor af gekom. Die voertuig se ligte was so skerp dat sy skaars kon sien waar sy ry. Sy het toe haar bromponie se ligte geflikker om vir die bestuurder te wys om sy of haar ligte dowwer te stel.
“Toe swaai hy oor die pad en kom reguit op my af, sodat ek heeltemal moes uitswaai tot teen die sypaadjie. Toe hy verby my ry, het ek vir hom geskree,” sê sy.
Toe sy stop om die katte se kos uit te haal, was die motor reeds by haar. Sy het die jongman gekonfronteer toe hy en ‘n vrou besig was om uit die motor te klim.
“Toe sy uitklim, toe weet ek hier kom moeilikheid, want ek kon sien sy is ’n bakleier.” Die vrou het haar vinger in Burger se gesig gedruk en haar begin skel. Toe Burger vir haar sê sy ruik na drank, het sy haar begin klap.
“Sy het my soveel keer geklap dat ek nie eers kon tel nie.” Burger het haarself probeer verdedig, maar die vrou het haar so erg geslaan dat sy op die grond geval het.
“In ’n stadium het sy my bromponie met geweld omgestamp. Toe skree ek vir lede van die NWU se beskermingsdienste om my te kom help.” Volgens Burger het hulle die vrou probeer kalmeer, maar sy en haar vriend het toe albei vir Burger met hul vuiste begin slaan tot sy op die grond gelê het.
Volgens Burger het die vrou haar daarna in die gesig geskop, wat veroorsaak het dat haar bril gebreek het, haar oog blou is en haar neus ook gebreek is. Die man het kort daarna ook begin om Burger te skop.
“As ek nie my valhelm opgehad het nie, het hulle my doodgeskop,” sê sy.
Die NWU se Potchefstroomkampus het die voorval bevestig. Volgens Kiewiet Scheppel, NWU woordvoerder was die aanvallers nie studente nie, maar het hulle wel daardie aand op die kampus gekuier.
Hulle is net voor die voorval deur beskermingsdienste gevra om die kampus te verlaat. Burger sê dat toe sy die motor die eerste keer gesien het, het hulle by die kampushek uitgery.
Scheppel het ook bevestig dat beskermingsdienste mev. Burger te hulp gesnel het en nadat sy mediese hulp van die hand gewys het, het hulle haar tot by haar huis vergesel. Hulle het haar ook gehelp om ‘n klag by die polisie te lê. ’n Saak van aanranding is by die polisie aanhangig gemaak.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.