NewsNews

‘Respekteer jou vleis’

Elke Suid-Afrikaner sal vir jou sê dat braai meer as net die gaarmaak van vleis oor die kole behels. Dit is meer as dit, dit is die samesyn van vriende en familie. Dit is die wegbreek van die gejaag van ons alledaagse lewe. Op 24 September is dit Nasionale Braaidag en die Herald het met …

Elke Suid-Afrikaner sal vir jou sê dat braai meer as net die gaarmaak van vleis oor die kole behels.
Dit is meer as dit, dit is die samesyn van vriende en familie. Dit is die wegbreek van die gejaag van ons alledaagse lewe.
Op 24 September is dit Nasionale Braaidag en die Herald het met bobaasbraaier, Anton Mostert, eienaar van Bailliepark Corner Butchery, gaan gesels. Anton, wat ten minste twee keer per week braai en vleis goed ken, stem saam dat braai meer as net gaarmaak is.
“Dit begin al by jou keuse van hout. Die reuk van die regte hout wat brand, skep klaar die atmosfeer van ’n braai,” vertel hy.
Mostert hou daarvan om lekker hardekool hout te gebruik en dit te meng met Braaistar charcoal.
“Net sodat my kole my nie in die steek laat nie,” spot hy.
Volgens hom is daar geen geheim daaraan om lekker vleis te braai nie.
“Solank jy nie gejaag is om klaar te maak nie, sal dit altyd ’n sukses wees. Ek is mal oor ’n lekker lamsrib wat op stadige kole gebraai is,” glimlag hy.
Worcestersous, suurlemoensap, olyfolie en Robertsons BBQ speserye is al wat hy gebruik om die lamsrib reg te kry vir die kole. Dit met ’n roosterbroodjie op die vuur en ’n aartappel en ’n ui wat in foelie toegedraai word met knoffelbotter, is ’n eenvoudige maar tog smaaklike ete.
“Die rustigheid saam met jou familie of vriende is wat ’n braai so spesiaal maak. Ek meen dit bestaan al honderde jare, waar mense bymekaar kom om ’n vuur en vleis gaarmaak. Solank jy goeie vleis kies om te braai en die proses met die nodige respek hanteer, kan ’n braai nie onsuksesvol wees nie,” vertel hy.
Maar braai het ook nou al so ‘n groot stokperdjie,veral in Suid-Afrika geword dat die manne wat kan braai altyd op die uitkyk is vir die volgende wenresep.
“Daar is so baie wat jy kan doen met braaivleis. Mossels en kaas as ’n vulsel saam met jou filet is lekker of verskillende souse kan probeer word saam met verskeie vleise, die moontlikhede is eindeloos,” sê hy.
“Om lekker te braai hoef ook nie duur te wees nie. Mens kan lekker vleis kry vir onder R100. Jy moet net die snitte reg kies. Rashers, sosaties, vark, hoender en wors is alles baie goedkoper opsies wat steeds lekker gebraai kan word. Die groot ding om na te kyk by veral wors is die kleur, dit moet ’n diep rooi wees wat wys dat die vleisinhoud groot is en dat daar nie water of organe bygewerk is nie. Die dikte van die wors moet ook relatief dieselfde bly, anders wys dit dat daar te veel water by die wors gesit is,” verduidelik hy.
Sy laaste bietjie advies vir die mense wat dié dag ten volle wil geniet met goeie gehalte vleis, is dat mens moet seker maak jy sien wat jy koop.
“Dit is belangrik dat vleis voor jou gesny word en dat wors voor jou gemaak word. Dan weet jy wat daar ingaan,” sê hy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button