
Twee mans is vanoggend (10 Oktober) omstreeks 07:00 op die R501 ongeveer 8 kilometer buite Carletonville uit hul voertuig gegooi nadat dit omgeslaan en gerol het.
Paramedici van ER24 het kort ná 07:00 op die toneel aangekom waar hulle die voertuig langs die pad aangetref het. Een van die mans het omtrent 15 meter van die voertuig af gelê. Hulle moes die kritieke man stabiliseer waarna hy per helikopter na ʼn hospitaal in Johannesburg geneem is.
Die ander man is glo 100 meter weg van die toneel gevind. Hy het na bewering na die ongeluk op gestaan en begin loop waarna hy in mekaar gesak het. Hy was in ‘n ernstige toestand, en is na Fonteine-hospitaal in Carletonville geneem.
Die presiese oorsaak van die voorval is nog nie bekend nie.



