Die 18-jarige Riaan Swart, wat vroeër een van die beskuldigdes was wat aangekla is van die moord op Samuel Jubeda en Simon Tjixa in Januarie vanjaar, het Maandag voor landdros Deon van Rooyen verskyn vir sy pleit en verhoor op twee aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Dit volg nadat die staat in Augustus die moordklagte teen hom teruggetrek en gewysig het na klagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Hy het skuldig gepleit op beide aanrandingsklagtes.
Jubeda en Tjixa se dood het gevolg ná meer as 40 boere op 6 Januarie vanjaar gereageer het toe die 73-jarige Loedie van der Westhuizen die noodknoppie gedruk het ná ’n aanval op hom op sy plaas in die Weiveld-distrik.
Die oorledenes is toe glo sodanig beseer dat hul kort nadat hulle in hegtenis geneem is, aan hul beserings in die hospitaal beswyk het.
Die hof het Maandag gehoor hoe Swart erken het dat hy die mans met die vuis aangerand en geskop het.
Hy het erken dat hy kwaad was, maar besef dat hy verkeerd gedoen het.
Daar is gesê dat sy ouma intussen laat weet het dat daar honde by die skape was, hy het toe saam met sy oupa en oom, Johan Cilliers sr. en jr. wat vroeër ook van die eerste aangeklaagdes in die moordverhoor was, gery om na die skape te gaan kyk.
Die staat het vroeër ook sy saak teen beide die Cilliers teruggetrek.
Die hof het egter gehoor dat die oorledenes nog geleef het toe Swart weg is van die toneel.
Landdros Van Rooyen het hom skuldig bevind en die vonnis is opgeskort vir vyf jaar, wat beteken dat sou Swart hom in die volgende vyf jaar aan soortgelyke klagte van aanranding skuldig maak, hy op hierdie klagtes gevonnis sal word.
Hy mag ook vir die volgende vyf jaar nie ’n vuurwapenlisensie besit nie.
Nog artikels oor die Parys Moorde



