
Kort nadat honderde toeskouers Sondagmiddag opgepak het ná die dag se Dragonboot kragmeting by die Parys Golf & Country Estate, het ’n frats motorbootongeluk die lewe van ’n sakeman, André Groenewald, geëis.
André was die eienaar van André Begrafnisdienste.

Hy is net voor 18:00 onderweg na Mediclinic Vereeniging oorlede. Die ongeluk op die rivier het omstreeks 16:00, kort na die prysuitdeling en afsluiting van die dag gebeur. Mense wat nog opgeruim het of nog gekuier het op die rivieroewer, het aan die Herald gesê dat niemand regtig seker is wat gebeur het nie, maar dat die motorboot se dak afgeruk is toe dit iets getref het, waarna Groenewald glo sy bewussyn verloor het. Die boot het na die oorkantste wal geskiet waar dit tot stilstand gekom het. Oomblikke tevore het deelnemers aan die Dragonboot resies nog hier op die rivieroewer gesit. Personeel van Parys Medix wat by die rivier diens gedoen het vir die dag, was onmiddellik op die toneel om hulp te verleen. Hy is met baie ernstige inwendige beserings en ’n skedelfraktuur eers na die Parys-hospitaal gehaas, vanwaar hy per ambulans deur ER24 en Parys Medix na Mediclinic Vereeniging geneem is. Hy het egter in die ambulans aan sy beserings beswyk.
André het oor die afgelope jare vir baie mense as begrafnisondernemer vertroosting in hul hartseer gebied en was vir sy gesin ’n groot steunpilaar. Baie mense het hom oor die naweek nog by die fees gesien en só ook die Sondag op sy jetski op die water – een van sy groot passies. Te midde van die skok en ongeloof oor die tragedie het mense Sondagaand boodskappe van diepe medelye aan sy gesin op Facebook geplaas. Hy word oorleef deur sy vrou, kinders en familie. Ons innige meegevoel met die familie. ‘n Roudiens word op Sondag, 6 November om 12:00 vanuit die NG Kerk Wes in Parys gehou.



