
Die polisie waarsku teen ’n moontlike toename in misdaad oor die vakansietyd.
Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, neem veral inbrake en diefstal in dié tyd toe.
Studente wat na hulle ouerhuise gaan word aangeraai om soveel van hulle besittings as moontlik saam te neem, omdat studentehuise en -woonstelle tydens die vakansies geteiken word.
Inwoners wat vir ’n lang tydperk met vakansie gaan, moet hulle buurtwag en sekuriteitsmaatskappy laat weet dat hulle nie gaan tuis wees nie.
“Die publiek kan ook by die polisiestasie die vakansieboek invul. Adres besonderhede en hoe lank hulle gaan weg wees, word ingevul. Die polisie kan dan ekstra patrollies in die area doen. Maak ook seker daar is iemand wat gereeld die posbus leeg maak sodat diewe nie op die oog af kan sien dat niemand tuis is nie,” het Chaka gesê.
Rapporteer alle verdagte persone aan die polisie sodat hulle bewus is van beweging in sekere areas en daar meer aandag gegee kan word.
Inwoners word ook gemaan om nie waardevolle items in hulle voertuie te los waar diewe dit kan sien nie.
“Sluit skootrekenaars en ander waardevolle items in die kattebak toe. Diewe soek geleentheid om te kan steel, as die geleentheid weggeneem word is dit vir hulle moeiliker,” het Chaka gesê.
“Dit is nou die tyd dat kriminele ‘inkopies’ doen, almal moet meer bedag wees op wat om hulle aangaan. Probeer om nie met groot bedrae kontant rond te loop nie. Jong mense wat musiek luister op hulle selfone terwyl hulle in die straat loop, adverteer vir kriminele dat hulle waardevolle items by hulle het,” het hy gesê.



