Potchefstroom het hom geslyp, sê nuwe VF Plus-leier
“Ek was bevoorreg om as skolier, student, soldaat en werknemer in Potchefstroom as deel van die samelewing geslyp te kon word.” So sê dr. Pieter Groenewald, wat Saterdag tydens die party se kongres as nuwe leier van die VF Plus aangewys is.
“Ek was bevoorreg om as skolier, student, soldaat en werknemer in Potchefstroom as deel van die samelewing geslyp te kon word.”
So sê dr. Pieter Groenewald, wat Saterdag tydens die party se kongres as nuwe leier van die VF Plus aangewys is.
Die vorige leier, dr. Pieter Mulder, het homself nie weer verkiesbaar gestel nie. Groenewald sê hy glo die unieke samestelling van Potchefstroom met akademici, studente, soldate en mense uit alle vlakke van die samelewing het hom voorberei om met alle mense te kan vereenselwig.
“Potchefstroom lê my steeds baie na aan die hart, veral wat betref ons studente en jeug vir wie daar ‘n toekoms geskep moet word.”
Hy sê die aanslag vandag is juis teen die Afrikaner en sy jeug wat beskuldig word vir alles wat tans (en in die verlede) verkeerd gaan in die land.
Hy meen die Afrikaner, en deesdae veral witmense, is genoeg geboelie. “Ons moet ons kop oplig en trots wees vir wie en wat ons is. Ons moet ophou om altyd verskonend te wees. Jy kan sonder om arrogant of meerderwaardig te wees, en met wedersydse respek, sê – jy is trots om ‘n Afrikaner te wees.”
Dr. Groenewald sê dit was ’n voorreg om oor dekades as parlementslid saam met dr. Mulder te dien en dat dit hom goed voorberei het vir sy nuwe taak.
“Daar is min mense in Suid-Afrika met die diepgaande kennis oor die politieke situasie in Suid-Afrika soos dr. Mulder. Hy gaan vir eers nog aanbly as parlementslid en ons sal voortgaan om sy insig en raad tot voordeel van die party aan te wend.”
Mulder was 15 jaar lank leier van die VF Plus nadat hy in 2001 onbestrede as leier verkies is. Sedert 2001 is hy by elke VF Plus-reorganisasie eenparig verkies en was hy weer onbestrede as leier by vanjaar se verkiesing genomineer.
Mulder, ook ’n Potchefstromer in murg en been, het egter besluit om nie aan die 2019 verkiesing deel te neem nie en dat ’n nuwe leier nou moet oorneem. Hy wil meer tyd by sy gesin en kleinkinders deurbring.
Pieter Groenewald is gebore op 27 Augustus 1955 in Fochville. Sy ouers verhuis in 1958 na ‘n plaas by Boskop buite Potchefstroom. Hy is een van vier kinders (2 seuns en 2 dogters) waarvan hy en ‘n suster ‘n tweeling is. Hy was in Laerskool Naauwpoort en daarna in Hoërskool Gimnasium.
In 1974 voltooi hy sy militêre diensplig by die Berede-sentrum buite Potchefstroom en word die eerste persoon wat vyf perde gelyktydig ry, bekend as Romeinse Rit.
Hy verwerf ’n B.Juris-graad en ’n na-graadse kwalifikasie in Kommunikasiekunde aan die destydse PU vir CHO. In 2005 voltooi hy sy Meestersgraad in Bestuur en Ontwikkeling en in 2013 sy doktorsgraad in Politieke Studies aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit.
Hy was van 1980-1989 werksaam by Naschem, toe ’n filiaal van Denel op Boskop, en het in Van der Hoffpark gewoon.
In 1988 verhuis hy na Stilfontein, betree die politiek en word verkies as burgemeester van Stilfontein. Vanaf 1989 is hy lid van die Parlement.
Hy is getroud met Hedwig, het drie kinders, Elmien, en ‘n tweeling Pieter en Michal.
Pieter se stokperdjie is fotografie en hy werk naweke graag in sy tuin.



