SportSport

Krieketafrigter druk sy stempel op Pukke se talentvolle spelers af

NWU Pukke se krieketbestuurder en eerstespanafrigter het sekerlik een van die beste uitsigte uit sy kantoor. Dit kyk uit op die NWU Puk se hoofkrieketveld op die Fanie du Toit Sportgronde. Conrad de Swardt is een van die mees gerespekteerde vlak 3 afrigters in die land en het vanjaar die KSA Klubkampioenskappe met Pukke as …

NWU Pukke se krieketbestuurder en eerstespanafrigter het sekerlik een van die beste uitsigte uit sy kantoor. Dit kyk uit op die NWU Puk se hoofkrieketveld op die Fanie du Toit Sportgronde.

Conrad de Swardt is een van die mees gerespekteerde vlak 3 afrigters in die land en het vanjaar die KSA Klubkampioenskappe met Pukke as afrigter gewen, en het deur die jare ook ander titels verower.

Potchefstroom Herald het besluit om meer oor hierdie krieketkenner uit te vind:

1) Waar is jy gebore?

Ek is in George gebore, maar het by ‘n paar plekke skoolgegaan.

2) Skoolgegaan en gematrikuleer?

Ek het skoolgegaan in Pretoria in Kimberley by Diamantveld Hoërskool en toe by Hoërskool Punt in Mosselbaai gematrikuleer.

3) Waar het jou liefde vir krieket ontstaan?

My pa was ‘n goeie krieketspeler en ek het my eerste blootstelling daar gekry. Ek het toe in Kimberley klubkrieket gespeel. Van daar af het ek soveel krieket as moontlik gespeel.

4) Watter tipe speler was jy?

Ek was ‘n goeie veelsydige speler. Ek het ‘n unieke boulaksie gehad waar ek van die verkeerde voet af geboul het, wat dinge soms moeilik gemaak het vir kolwers (baie soos die voormalige SA krieketster Mike Proctor). Ek het ook daarvan gehou om te kolf en ‘n paar balle te slaan soos elke speler maar doen.

5) Wie sou jy sê het tot dusver die grootste impak op jou krieketloopbaan gehad as speler en afrigter?

Andrew Lawson by die Puk in die laat 90’s en Gordon Parsons by Noordwes.

6) Beste krieket herinneringe?

In 1998 het ek in my eerste wedstryd vir Puk 1 die wenlopies teen ‘n vol sterkte Noordwesspan op Witrand in ‘n finaal geslaan. Ek het op nommer 10 gekolf en saam met Heinrich Strydom se broer (Guillaume Strydom) wat op 11 gekolf het, het ons 22 van twee boulbeurte af gekort. Ek het toe vir Jannie Dreyer vir ‘n ses met die laaste bal geslaan. Dit was ‘n groot oomblik en baie ouens onthou dit steeds. Ek sal nie sê dat ek die beste speler was nie, maar ek het harde werk ingesit en dit is iets wat ek steeds vir my spelers wil leer. Daar is nie verskonings nie.

7) Watter klasse bied jy aan op die Puk?

Ek gee in die tweede semester die vlak 1 krieketafrigtingskursus vir die MBW studente. Dit is vir my lekker om te sien as die studente verstaan wat ek verduidelik.

8) Waar het jou afrigtingsloopbaan begin?

Ek het in Kimberley begin toe ek nog daar krieket gespeel het. Ek was nie mal daaroor in die begin nie, omdat ek nog ‘n speler was en aktief betrokke was. Die eerste groot afrigterspos was toe ek SWD na die o.19 Cokeweek in Pretoria in 2004 geneem het. Ek het toe ook afgerig by Hoërskool Outeniqua waar ek skoolgehou het.

9) Wat is jou afrigtingsfilosofie?

Ek het ‘n ander siening oor afrigting. Die hedendaagse jongmens wil interaktiwiteit hê. Ek sal graag wil hê dat afrigting fokus op individuele spelers en om regtig tyd te spandeer om hulle voor te berei. Dit is nie afrigting om agter die nette te staan en bevele te roep nie. Uitvoering van wedstrydplanne is die belangrikste. As spelers bereid is om te luister, is dit makliker om hulle af te rig. Dit is een ding om ‘n chip op jou skouer te hê, maar iets anders om ‘n hele pakkie Pringles van jou skouer af te kry. Spelers moet steeds weet dat krieket ‘n spansport is, al is daar ‘n individuele aspek.

10) Ek sien jy is ‘n goeie gholfspeler? Wat is jou voorgee?

Ek geniet my gholf baie. Toe ek uitgetree het, het ek iets gesoek wat steeds kompeterend is. Gholf is die stryd teen jouself en teen die baan nou en dan. In ‘n stadium was ek ‘n +1 gewees en ek is tans ‘n 3 voorgee. Gholf hou my ook nederig.

11) Ek het ‘n voëltjie hoor fluit dat jy die sokkerklub Wigan Athletic ondersteun? Vertel ons meer hiervan?

Ek is baie lojaal en ek ondersteun Wigan Athletic deur dik en dun. Ek het vir Wigan krieket gespeel, en voor ek in Engeland aangekom het was ek nie ‘n groot sokkerondersteuner nie. Die sokkergogga het my toe gebyt en van daar af ondersteun ek die span. In ‘n stadium het ons die FA Cup ook gewen. As daar ‘n ander Wigan Athletic ondersteuner in die land is wil ek hom ontmoet.

(Hoor hier wat sê Conrad oor sy gunsteling sokkerklub) 

12) Getroud?

Ek is getroud met Hendrina vir die afgelope nege jaar.

Dit en dat:

* Gunsteling kos?

Gebraaide hoender, maar my pa moet dit braai. Dit is net ongelooflik.

* Gunsteling drankie?

‘n Coke of Soda Stream wat ek self maak.

* Gunsteling flieks?

Enige iets met ‘n raaisel in. Ek is ook ‘n groot Star Wars aanhanger.

* Gunsteling musiek?

Alternatiewe rock en 90’s grunge soos Nirvana, Sonic Youth, Pearl Jam ensovoorts. Francois van Coke se musiek is ook vir my goed.

* Gunsteling vakansieplek

Tans sal ek graag Mauritius toe te gaan om net te rus!

* Vreemdste plek wat jy jouself al bevind het?

Ek het verdwaal op pad Ellispark toe en toe beland ek in Hillbrow.

* Het jy ‘n leuse en wat is dit?

“Do or do not. There is no try.” – Yoda.

* Beste krieketwedstryd wat jy al ooit gekyk het?

Verlede jaar was ek gelukkig genoeg om AB de Villiers se 149 (44) te sien  toe hy die vinnigste eendag honderdtal op Wanderers aangeteken het.

* Gunsteling spelers van alle tye?

Richard Snell, Sachin Tendulkar, Jacques Kallis, Herschelle Gibbs en Neil McKenzie

* Gunsteling koffiewinkels?

De Milko en Toro

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button