
’n Sakeman van Ventersdorp is moedeloos met die munisipaliteit se onbereidwilligheid om die infrastruktuur in Ventersdorp te onderhou.
’n Erg omgekrapte Ernst Henning het aan die Herald gesê die elektrisiteit is ten minste een keer per week af en dan is daar ook nie water nie. Die raad skuld ’n ander sakeman in die dorp meer as R500 000 vir dienste gelewer.
Sakemanne het ook ten einde raad saamgewerk om die stormwaterdreine skoon te maak nadat dit deur al die vullis verstop is.
Henning beskryf die stand van sake as ’n fiasko waar, selfs wanneer hulle wil help, dit nie aanvaar word nie. Hy het beskryf hoe verskeie sakemanne, wat homself insluit, al uit hulle eie sak verf en teer gekoop en self gate in die paaie reggemaak het.
“Nadat ons die vullis uit die stormwaterdreine gegrou het, het ons die munisipaliteit gevra om ten minste net die vullis weg te ry. Dit het hulle nie eers gedoen nie,” vertel Henning.
Die water en elektrisiteit wat sedert Januarie vanjaar elke week afgaan, het ’n baie negatiewe impak op Henning se brouery-besigheid gehad.
“Ek het 40 000 liter se brousel verloor en my dieselrekening vir my kragopwekkers beloop om en by R32 000 net sodat die fabriek kan aanhou produseer,” het hy gesê.
Die ou Ventersdorp munisipaliteit skuld glo om en by R90 miljoen aan verskeie instansies, onder meer R52 miljoen aan Eskom. Hulle het verlede maand slegs R800 000 kon invorder van die R5 miljoen se fakture vir dienste wat aan inwoners gestuur is.
“Hierdie is duidelik ‘n resep vir bankrotskap,” het DA koukusleier, Chris Landsberg gesê.
Die vraag op almal se lippe is tans of die krisis in Ventersdorp Potchefstromers se probleem gaan word.
Volgens Willie Maphosa, munisipale woordvoerder, word beide Ventersdorp en Tlokwe nog op aparte begrotings bestuur, hoewel dit nou een munisipaliteit is.
“Die gesamentlike begroting wat in die laaste raadsvergadering goedgekeur is, sal eers van volgende jaar af in werking tree,” sê hy.
Hy het bevestig dat daar elektrisiteitsprobleme in Ventersdorp is. Hy het dit toegeskryf aan verouderde kragdrade wat meer vatbaar is vir skade deur weer en bome.
Hy het ook verduidelik dat herstelwerk tans aan een van die substasies gedoen word. Dit behoort teen 9 Desember afgehandel te wees.
“Wanneer die krag af is, raak dit ongelukkig ook die watertoevoer omdat die waterpompe dan ook nie werk nie,” het Maphosa gesê.
Henning sê daar is baie onwettige elektrisiteitsaansluitings wat geignoreer word. Dit oorlaai die reeds verswakte elektrisiteitsnetwerk.



