Die stamvader van die GOUS familie in Suid-Arika is ene André GAUCH wat in Le Pont-de-Montvert, Lanquedoc, Frankryk gebore is (datum onbekend). Op 13 Januarie 1683 trou hy in Celigny (naby Geneve, Switzerland), met Jacqueline DECRE en uit die huwelik is twee kinders gebore, Estienne (Ettienne) *1684 en Marie *Amsterdam 1690.
Weens die vervolging van die Protestante vlug hy (voor die herroeping van die Edik van Nantes op 23 Oktober 1685) na Amsterdam waar sy eggenoot oorlede is. In 1691 vertrek hy en sy twee kinders met die skip “Spierdijk” na die Kaap. Tydens die reis is sy dogter Marie oorlede. (Volgens ‘n ander bron is sy eggenoot ook tydens die reis oorlede). In die Kaap aangekom gaan vestig hy in Drakenstein naby die huidige Simondium as grofsmit en boer en op 19 Augustus 1691 trou hy met die 15-jarige Jeanne De CLERCQ *1675 +1770 (dv Pieter de CLERCQ en Sara COCHET). Vier kinders is gebore voordat André in Augustus 1698 in vreemde omstandighede sterf. Sy liggaam is gevind in die veld waar hy sy vee inspekteer het. Volgens onbevestigde gerugte is hy vermoor deur ene Pieter Bekker, met wie sy jong vrou hy na bewering ‘n buite-egtelike verhouding gehad het. Sy jongste was skaars ‘n maand oud en hy laat sy jong weduwee met ‘n stiefseun en 4 eie kinders na – die oudste skaars 6 jaar oud.
Kort na sy moord tree Jeanne in 1698 in die huwelik met Pieter BEKKER, die beweerde moordenaar van haar eggenoot en hulle eerste kind Gideon word in 1698 gebore. Die naam van sy plaas is nie bekend nie, omdat hy vermoor is voor hy die titelakte ontvang het. Hy was een van die min Franse vlugtelinge wat nie finansiële bystand of vee van die Kompanjie ontvang het nie, omdat hy nie deel van die hoofgroep Hugenote was nie. In 1694 het ds. Simmond in sy persoonlike hoedanigheid ‘n lening aan hom toegestaan. Uit sy boedeldokumente blyk dit dat hy ‘n moeilike bestaan gehad het.
Sy kinders uit die twee huwelike:
b1 Ettienne (ook Jacob Etienne Steven) *Switzerland 1684 was ‘n boer op die plaas “Elandsvalleij” aan De Swartberg x Kaapstad 27.2.1718 Catharina BO(C)K *ongeveer 1705 =Kaapstad 1.1.1713. Sy was ‘n gebore slavin wat in 1709 vrygestel is en was ‘n d.v. Christian Bock van Wolfenbuttel, Duitsland en Anna Groothenning van Bengale.[Ettienne se oudste seun Stephanus *1740 was getroud met Catharina Hübner*1734 en hulle word die pleegouers van Andries Carel Eduard Alexander FACULYN wie in Frankryk gebore is, maar wees agtergelaat word toe sy ouers beide op die seereis na die Kaap sterf. [Andries Carel Eduard Alexander trou met Alida Jacoba Mosterd en hulle 6 oorlewende seuns se nageslag word mettertyd in die GOUS stamboom opgeneem.
Meer oor sy stamboom is op die Genealogiese Genootskap van SA se webwerf, www.genza.org.za te sien.



