NewsNews

Burgemeester beloof maatreëls oor feeste

Die burgemeester van Potchefstroom, Kgotso Khumalo, het in verlede week se Herald voorgeneem om drastiese maatreëls in te stel om skarebeheer, harde musiek en besoedeling tydens feeste in die stad te bekamp.

Die burgemeester van Potchefstroom, Kgotso Khumalo, het in verlede week se Herald voorgeneem om drastiese maatreëls in te stel om skarebeheer, harde musiek en besoedeling tydens feeste in die stad te bekamp.
In sy weeklikse rubriek sê hy die feeste bring ’n baie groot ekonomiese inspuiting vir die stad, maar dat dit ook sosiale uitdagings soos drankgebruik deur minderjariges, vernietiging van eiendom en besoedeling bring.
Na die fees wat op 16 Desember by die Trimpark plaasgevind het, het die sosiale media weer behoorlik gegons oor die harde musiek wat tot 06:00 die volgende oggend aangegaan het. Meeste mense het gewonder hoe dit moontlik is dat dit toegelaat word om tot daardie tyd aan te gaan en of die munisipaliteit dan nie reëls daaroor het of kan instel nie.
Victor Boqo, woordvoerder van die burgemeester, het verlede week aan die Herald gesê dat die munisipaliteit nie verantwoordelik is vir die tydsduur van enige fees nie.
Volgens hom gradeer en keur die polisie die geleentheid vooraf. Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die aansoek aan die polisie gestuur word vir goedkeuring, maar dat hulle in terme van die wet wat verband hou met sport- en rekreasie, slegs ’n risiko kategorisering doen vir ’n geleentheid. Hy het beklemtoon dat die polisie nie voorskryf watter tye die geleenthede moet begin of eindig nie.
Volgens organiseerders van ander feeste wat in die stad plaasvind, kategoriseer die polisie elke aangeleentheid as ’n lae, medium of hoë risiko geleentheid.
Elke kategorie het sy eie veiligheidsmaatreëls wat nagekom moet word, oor hoeveel sekuriteitsbeamptes, paramedici ensovoorts aan diens moet wees.
Hoewel raadslede Jaco Esterhuysen en Jeanne Adriaanse vertoë aan die verskeie departementshoofde by die munisipaliteit gerig het oor die tydsduur van die geleenthede, het hulle teen druktyd nog geen terugvoer ontvang nie. Dit was ook duidelik tydens die verskeie feeste dat hulle vertoë nie in ag geneem is nie, sê hulle.
“Ek het nie ’n probleem met die feeste nie, maar dit moet darem op ’n billike tyd klaarmaak,” het Esterhuysen gesê.
Kan die munisipaliteit dan nie voorwaardes stel aan organiseerders wat munisipale eiendom gebruik nie? “Die munisipaliteit het tans nie ’n beleid rondom dit nie. Ons beoog om gedurende volgende jaar so ’n beleid in plek te hê,” het Boqo gesê.
Volgens die verordening oor geraasbeheer van die Dr. Kenneth Kaunda distriksmunisipaliteit, waaronder Potchefstroom val, kan die munisipaliteit voorwaardes stel. Volgens die organiseerder, Phillip Masilo, gaan die geleentheid tot 06:00 aan omdat daar nie vervoer vir mense beskikbaar is as dit vroeër eindig nie. “Dit is ook ’n veiligheidsmaatreël omdat baie minder mense in die donker hoef huis toe te loop,” het hy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button