Potch-inhoudskepper skyn haar lig voor en agter die kamera
“Ek wil nie hê mense moet net sien wat ek bereik of hoe ek groei nie. Ek wil hê hulle moet ook die rol wat God in my lewe speel, raaksien.”
Vriendelike oë en ‘n spontane glimlag laat jou gou tuis voel in die geselskap van die borrelende Potchefstroomse digitale inhoudskepper, Charlize Boshoff.
“Lig jou ken, ken jou lig en laat jou lig helder skyn,” is die leuse vir hierdie NWU-student wat daagliks haar persoonlikheid op sosiale media uitleef.
Charlize (22) het in 2024 begin om video’s op Instagram te laai sonder ‘n plan om ‘n inhoudskepper te word. Sosiale media het ander planne gehad en kort voor lank het haar video’s viraal gegaan. Twee jaar later skep sy leefstyl- en skoonheidsinhoud vir jong vroue en studente, bemark produkte en deel ook meer oor haar lewe en geloof in Jesus Christus. Sy het meer as 14 000 volgelinge, en haar video’s trek gereeld aandag vanweë hul egtheid.

“Ek glo nie daarin om video’s te deel oor iets waarin ek nie glo nie. Ek is wie ek is voor en agter die kamera. Ek dink baie mense verstaan dit nie altyd nie, juis omdat mense dink dat inhoudskepper ‘n ego het en ‘n front voor die kamera hou,” vertel die borrelende derdejaarstudent.
Charlize het op ’n plaas buite Emalahleni (Witbank) grootgeword voordat sy na Nelspruit verhuis het, waar sy aan Hoërskool Nelspruit gematrikuleer het. Sy het in haar tweede jaar van studies terug na Emalahleni getrek. Nadat sy in Potchefstroom begin studeer het, het sy danksy modelwerk by die agentskap 33 and Me Talent Agency haar eerste tree in die bedryf gegee.
“Namate ek meer modelwerk gedoen het, het ek besef dat ek van die bedryf hou. Dit het my ook laat belangstel in inhoudskepping. Ek het klein begin en later met plaaslike ondernemings in Potch begin saamwerk. Dit is juis lekker om die plaaslike besighede in Potch te sien groei,” sê sy.
Potch bied geleenthede vir inhoudskepping
Met Potchefstroom se groot en diverse studentepopulasie het Charlize ook inhoud begin skep waarmee studente kan vereenselwig.
“Een van my video’s wat baie aandag getrek het, was oor die elektriese scooters in Potchefstroom. Dit is belangrik om te kyk wat rondom jou gebeur en daaroor inhoud te skep. Jy moet bewus wees van wat mense interesseer en waaroor hulle praat.”
Hoewel sommige inhoudskeppers hard probeer om aandag te trek, wil Charlize eerder wys hoeveel sy geniet wat sy doen. Sy deel ook graag die agter-die-skerms-gedeelte van haar werk om te wys dat haar inhoud nie geforseerd is nie.
Sy bemark ’n verskeidenheid produkte, maar vir haar gaan dit nie net oor ’n ekstra inkomste nie. Dit gaan ook daaroor om mense en ondernemings te ondersteun.
“Wanneer ek ’n onderneming ondersteun, kan ek help om meer mense daarvan bewus te maak. Dit kan die onderneming bevoordeel, terwyl dit my ook help om my werk as inhoudskepper verder te ontwikkel.”
Buiten haar inhoud oor die lewe in Potchefstroom, wil Charlize ook deur haar persoonlikheid en geloof jong vroue inspireer.
“Ek wil hê hulle moet voel dat hulle nie alleen is nie en dat hulle met iemand kan identifiseer. Ek wil jong meisies aanmoedig om nie net ’n verhouding te soek omdat hulle eensaam voel nie. Dit is belangrik om eers jouself en jou verhouding met God te ontdek. Moenie ’n verhouding gebruik om ’n leemte te probeer vul nie.”
Haar geloof bly ’n belangrike deel van haar identiteit.
“Ek wil nie hê mense moet net sien wat ek bereik of hoe ek groei nie. Ek wil hê hulle moet ook die rol wat God in my lewe speel, raaksien.”
’n Doen-dit-self-ingesteldheid kan jou ver bring
Hoewel Charlize gereeld video’s en foto’s oplaai, het sy nie ’n hele mediaspan agter haar nie. Sy redigeer haar eie inhoud en maak staat op vriende en familie om haar soms met foto’s en video’s te help.
“Die mense wat my soms help om foto’s en video’s te neem, is gewoonlik my vriendinne, my sussie of my ma. Dit is nie altyd ’n professionele fotograaf nie. Ek sal vir hulle sê wanneer ’n hoek nie vir my werk nie of wanneer ek iets anders wil probeer.”
Sy glo dié benadering dra by tot die egtheid van haar inhoud en wys dat kreatiwiteit nie noodwendig ’n groot span of professionele toerusting vereis nie.
Tussen haar studies en inhoudskepping probeer Charlize ook aktief bly. Sy geniet dit om te draf en bergfiets te ry en was op skool ’n kranige netbalspeler. Haar plaasagtergrond beteken ook dat sy nie omgee om haar hande vuil te maak nie. Sy geniet verder avontuursport en aktiwiteite op die water.

Negatiewe kommentaar op sosiale media is volgens haar iets waarop sy geleer het om nie te veel te fokus nie. Sy konsentreer eerder op waarom sy inhoud skep en die positiewe invloed wat dit kan hê.
“Ek wil hê iemand moet my kan ontmoet en voel dat die persoon wat hulle aanlyn sien, steeds die persoon is wat hulle persoonlik ontmoet. Dit is vir my lekker om te weet dat iets wat ek doen, iemand anders se dag kan beter maak.”
Charlize se gunstelinge
- Ideale vakansiebestemming: Die see
- Gunsteling musiek: Kurt Darren
- Gunsteling fliek: How to Lose a Guy in 10 Days
- Gunsteling peuselhappie: Biltong saam met sout-en-asyn-kraaktjips



