Partye veroordeel wrede plaasaanval op Potchefstroomse boer
Donovan Marx (50), ’n beesboer is Woensdagoggend, 28 Oktober, op sy plaas tussen Potchefstroom en Ventersdorp gemartel.
Die wrede plaasaanval op Donovan Marx (50), ’n beesboer wat Woensdagoggend, 28 Oktober, op sy plaas tussen Potchefstroom en Ventersdorp gemartel is, het politieke partye laat vra vir sterker veiligheidsmaatreëls in landelike gebiede.
Marx is tydens die aanval in die rug geskiet en met ’n skerp voorwerp in die been gesteek. Sy ore is glo ook afgesny. Hy ontvang behandeling by Mediclinic Potchefstroom.
Volgens beskikbare inligting is ’n plaaswerker tydens die aanval vasgebind, maar kon hy homself later bevry en alarm maak. Die aanvallers het met Marx se rooi Isuzu-bakkie van die toneel gevlug. Die polisie se ondersoek duur voort.
Dr. Corné Mulder, leier van die VF Plus, het sy meegevoel met Marx en sy naasbestaandes uitgespreek en ’n beroep op president Cyril Ramaphosa gedoen om plaasaanvalle as ’n prioriteit te hanteer.
“Die VF Plus wys herhaaldelik daarop dat plaasaanvalle merendeels gepaardgaan met erge geweld en marteling, soos in hierdie geval, en dat dit daarom nie as gewone misdaad afgemaak kan word nie,” lui Mulder se verklaring.
Hy het verder aangevoer dat die regering meer daadwerklike stappe moet doen om plaasaanvalle te voorkom.
Theo Venter, DA-raadslid en burgemeesterskandidaat vir JB Marks Plaaslike Munisipaliteit, het die aanval veroordeel en gevra dat die polisie die ondersoek prioritiseer en die verantwoordelikes voor die gereg bring.
“Hierdie grusame aanval beklemtoon weereens die ernstige veiligheidsuitdagings waarmee landelike gemeenskappe te kampe het,” lui Venter se verklaring.
Volgens die DA bedreig plaasaanvalle, veediefstal en ander landelike misdaad die lewens en lewensbestaan van boere, plaaswerkers en hul gesinne.
Die DA het aangekondig dat hy die voorsitter van die Noordwes Provinsiale Wetgewer se portefeuljekomitee oor Gemeenskapsveiligheid en Vervoerbestuur (COSATMA) gaan versoek om ’n dringende inligtingsessie deur die polisie oor plaasaanvalle in die provinsie te reël.
Die party wil onder meer terugvoer ontvang oor voorkomende maatreëls, ondersoeke en inhegtenisnemings.
“Landelike gemeenskappe verdien meer as net versekering. Hulle verdien doeltreffende polisiëring, aanspreeklikheid en die gemoedsrus wat daarmee gepaardgaan wanneer hulle weet hul veiligheid word ernstig opgeneem,” lui Venter se verklaring.



