Skielike dood van regsadvisseur skok
Die skielike dood van ’n regsadviseur van die munisipaliteit het talle mense in skok gelaat. Hansie Claasen (45) wat reeds vier jaar by die munisipaliteit werk, is Dinsdagaand omstreeks 18:00 dood aangetref in sy huis in Kwartelstraat. Volgens Christiaan Haefele, bedryfsbestuurder van Mooirivier Beskerming, is hulle ontbied nadat daar skote in die huis gehoor is. …
Die skielike dood van ’n regsadviseur van die munisipaliteit het talle mense in skok gelaat.
Hansie Claasen (45) wat reeds vier jaar by die munisipaliteit werk, is Dinsdagaand omstreeks 18:00 dood aangetref in sy huis in Kwartelstraat.
Volgens Christiaan Haefele, bedryfsbestuurder van Mooirivier Beskerming, is hulle ontbied nadat daar skote in die huis gehoor is. Claasen se vrou het die skote gehoor, waarna sy en haar seun na die buurman toe is om hulp te ontbied.
Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, is daar verskeie skote geskiet voordat reaksiebeamptes op die toneel gekom het. Met nadere ondersoek het hulle op Claasen se lyk in die slaapkamer afgekom.
“Geen misdaad word vermoed nie. ’n Geregtelike doodsondersoek is tans aan die gang,” het Chaka gesê.
Volgens Claasen se broer, CW, het die samelewing ’n baie goeie mens verloor.
Die DA het hulle innige simpatie met die vriende en familie van Claasen gedeel. Elke lid van ons koukus is persoonlik verwoes deur die onverwagte en hartseer nuus van die ontydige dood van hierdie wonderlike en opregte amptenaar, kollega en vriend. Mag ons Hemelse Vader troos aan sy vrou, Mariette en hul drie kinders bied. Ons eer sy nagedagtenis,” lui die verklaring van die DA.
Claasen was Maandag nog by sy pa Pietman, saam met wie hy ’n skaapstoet bedryf het.
“Hy was ’n groot diereliefhebber wat die buitelewe geniet het. Dit voel aanvanklik heeltemal onwerklik, dan sak die skok in, maar ek het geweet dat ek die nuus aan my ouers moes oordra, daarom moes ek sterk staan,” sê CW.
Die munisipaliteit het ook hulle meegevoel met die Claasen-gesin gedeel.
“Hy sal altyd onthou word as volkome professioneel wat spesiale sorg en diep belangstelling in sy werk gehad het. Die munisipaliteit is ongetwyfeld armer sonder mnr. Claasen.
“Hy was ‘n integrale deel van die familie hier by NW405,” het Willie Maphosa, munisipale woordvoerder, gesê.
Hansie Claasen gaan Dinsdag op die familieplaas in Petrus Steyn begrawe word, maar verdere reëlings was teen druktyd nog nie bekend nie.
Hy word oorleef deur sy vrou Mariette, kinders Nina, Boeta en Louis, sy ouers Pietman en Rina Claasen asook sy broer CW Claasen en suster Carin Strydom.



