NewsNews

Riool laat inwoners hul neuse toedruk

Riool wat by ’n mangat uitborrel, het die afgelope tyd tot gevolg gehad dat verskeie Potchefstromers hulle neuse moes toedruk.

Riool wat by ’n mangat uitborrel, het die afgelope tyd tot gevolg gehad dat verskeie Potchefstromers hulle neuse moes toedruk.
’n Leser het aan die Herald ’n foto gestuur van riool wat by Meyerstraat 6 op die Bult op die sypaadjie uitgeborrel het.
Volgens haar het sy gehoor die rede vir die lek is ’n oorlading van die rioolstelsel weens al die studente wat nou terug is op die Bult.
“Kliënte kon nie in ons onderneming inkom nie omdat die riool voor ons deur opgestoot het,” sê Janie van den Berg van New Skin Clinic in Meyerstraat.
Volgens haar het selfs die toilette in hul gebou opgestoot en was die reuk ondraaglik. Sy sê dit is nie die eerste keer dat dit gebeur wanneer die studente na ’n vakansie terugkom Bult toe nie.
Munisipale werkers het egter ’n verstopping in die stelsel verwyder en die probleem opgelos. Van die inwoners op die Bult meen egter dat die probleem net tydelik opgelos is, omdat die stelsel nie die volume riool kan hanteer nie. Daar is ook reeds vir meer as ’n maand ’n aaklige stank op die hoek van Retief- en Peter Mokabastraat. Sommige mense meen die stank kom vanuit ’n stormwaterpyp, maar volgens raadslid Santi Britz, met haar kantoor by Harcourts op dieselfde hoek, is die oorsaak van die stank glo die rioolstelsel wat besig is om daar in te gee.
Britz sê hulle het nou al ’n geruime tyd met die reuk te kampe en dat dit hul werksomgewing sleg beïnvloed.
Volgens Willie Maphosa, woordvoerder van die stadsraad, is die oorsaak van die rioollek in Meyerstraat nie as gevolg van ’n oorlading riool nie, maar eerder omdat daar weer vreemde voorwerpe en veral sanitêre produkte, in die rioolstelsel beland het.
“Sanitêre produkte moet ten alle tye in ’n drom gegooi word, en nie in die toilet afgespoel word nie. Ons hou aan om vir die publiek en veral die studente te vra om dit nie meer te doen nie,” sê Maphosa.
Daar is steeds baie waterlekke in die stad en ’n karwag op die Bult het besluit om die beste van ’n slegte situasie te maak.
Op die hoek van Steve Biko- en Borcherdsstraat is daar ’n waterlek wat vanaf die pad na die sypaadjie in ’n tuin inloop.
Steven Dlomo maak elke dag gruisklippies op die treinspoor bymekaar en pak dit al om die rand van die tuin om te keer dat dit daar inloop.
Hy is van plan om dit met die ander tuine langs die sypaadjie ook te doen.

Steven Dlomo wys die klippies wat hy om die tuin pak. Foto: Marianke Saayman
Steven Dlomo wys die klippies wat hy om die tuin pak. Foto: Marianke Saayman

 

 

Related Articles

Back to top button