‘n Ware sprokieseinde vir Pukke op Senwespark
Sweetdruppels lê verlede Saterdagaand op die Puk-manne se gesigte, terwyl hulle die 2017 Varsity Krieket-finaal toneelstuk voor hulle aanskou wat genoeg drama bevat om Shakespeare te laat glimlag. Senwes Park is die verhoog en die afwagtende gehoor vol Pukke ondersteuners bid en hoop vir ’n sprokieseinde. Edrich Lubbe en Jovaun van Wyngaardt is die akteurs …
Sweetdruppels lê verlede Saterdagaand op die Puk-manne se gesigte, terwyl hulle die 2017 Varsity Krieket-finaal toneelstuk voor hulle aanskou wat genoeg drama bevat om Shakespeare te laat glimlag.
Senwes Park is die verhoog en die afwagtende gehoor vol Pukke ondersteuners bid en hoop vir ’n sprokieseinde. Edrich Lubbe en Jovaun van Wyngaardt is die akteurs wat die afwagtende gehoor met 29 goue lopies moet bekoor. Hulle besef dis nou of nooit in die grootste wedstryd van hulle lewens.
In hulle pad staan dubbele toernooiwenners Tukkies, wat die vorige twee toernooie op dieselfde veld gewen het. Hulle kort vier paaltjies om die ondenkbare reg te kry en wat in ’n sprokie moet ontaard in ‘n riller vir die tuisspan te verander. Almal weet hulle kan nie onderskat word nie.
Tog was die tuisspan se vasberadenheid verbete en met elke Puk-lopie is daar ’n oorverdowende applous van die skare, – om nie eers te praat van die vier wat Lubbe slaan om sy span binne twee lopies van die wenteiken te bring nie. Van Wyngaardt in sy laaste Varsity Krieketwedstryd vir Pukke slaan die wenlopies in die gaping en spring in die lug – ekstase en verligting vasgevang met die welverdiende vierpaaltjie-oorwinning.
Traandruppels lê nou op die Puk manne se gesigte. Trane van blydskap, want die Pukke is vrolik. Die Pukke is bly.
Die beker is uiteindelik in Puk-kaptein, Wihan Lubbe se hande, en saam met die trane spuit sjampanjedruppels oor sy span se gesigte om die soete oorwinning en taai stryd te versinnebeeld.
Die 2017 Varsity Krieketfinaal tussen NWU-Pukke en Tuks was meer as net ‘n krieketwedstryd – dit was ’n toneelstuk wat uiting aan elke denkbare emosie gegee het en bewys het watter blywende impak sport op die Puk en Potchefstroom het.
In die spasie van 40 boulbeurte het jare se drome en visie uiteindelik vir NWU Pukke afrigter, Conrad de Swardt ,se begaafde Varsity Krieketspan in ’n realiteit verander.
Nie net is hulle die Varsity Krieket-kampioene nie, maar ook die Nasionale Klub-kampioene. As die Red Bull Kampuskampioene is hulle R500 000 ryker en gaan hulle hulle land later in die Wêreld Universiteite-toernooi in Sri-Lanka verteenwoordig.

In die eindstryd was die boulers die hoofrolspelers, met Tukkies wat eerste kolf en ‘n lae totaal van 116/8 aanteken. Dit was Pukke se beste boulvertoning in dié toernooi, waar hulle boulers keer op keer bewys het wat in hulle sit.
Pukke het meer gesukkel as wat hulle moes om die totaal verby te steek, maar druk in ‘n eindstryd kan met ’n speler se kop speel, en hierdie wen was ‘n absolute spanpoging met die kolf om die trofee in Potchefstroom te kry. Pukke was die beste span van die toernooi en het net een wedstryd teen Maties in die kompetisie verloor.
Talle spelers het hulle hande opgesteek, soos Marques Ackerman se 60* in die halfeindstryd en 29 in die eindstryd, sowel as Janneman Malan se brutale 249 lopies in die toernooi, terwyl Dyllan Matthews en JP le Roux ook op druktye pragvertonings met die bal verrig het. Tog was Wihan Lubbe die hoofrolspeler van die Varsity Krieket-toernooi wat in die eindstryd 3/16 met die bal geneem het om die hart uit Tukkies te ruk en die platform vir oorwinning te bied. ‘n Kaptein duisend en ‘n Puk deur en deur, wat deur die jare al alles in Puk se Varsitykrieketspan beleef het. “Ek was baie emosioneel en dit is moeilik om dit in woorde te sit. Soveel tyd en ure is ingesit oor die afgelope drie jaar en alles het uiteindelik bymekaar gekom,” sê hy.
Pukke mag maar feesvier, die harde werk en dors vir die Varsity Krieketbeker is nou geles op die mooiste aand van hulle lewens, daar waar hulle hart en hulle huis is.
’n Ware sprokieseinde op Senwespark.




