
’n Video van ’n man wat aggressief teenoor ’n Potchefstroomse verkeersbeampte optree, het die afgelope paar dae landwyd versprei.
Die video is Vrydag 3 Februarie deur ’n ooggetuie geneem wat gesien het hoe twee mans uit ’n Ford Ranger bakkie klim nadat hulle deur twee verkeersbeamptes voorgekeer is.
Op die video kan gesien word hoe die een man aggressief optree, deur na die verkeersbeampte se agterkop te klap, die verkeersbeampte se radio uit sy hand te gryp en dit in sy gesig te druk. Terwyl dit gebeur het, het die ander verkeersbeampte ’n boete uitgereik omdat, volgens Willie Maphosa, woordvoerder van die stadsraad, die man geweier het om sy lisensie te toon. Albei die verkeersbeamptes het deur die loop van die voorval kalm gebly.
Die verkeershoof, mnr. Malcolm Grimbeek, het die video aan die Herald verskaf in ’n poging om die mans op te spoor, nadat besluit is om ‘n klag by die polisie te lê. Die video is Sondagmiddag op die webtuiste gelaai met die doel dat die publiek kan help om die twee mans op te spoor. Kort voor lank het die video nasionale nuus gehaal en is dit selfs op SABC nuus gewys.
Woensdagoggend het sowat 15 000 kykers reeds die video op die Herald se Facebookblad gekyk en was dit reeds meer as 50 keer na ander blaaie gedeel. Die video word ook op Twitter rondgestuur. Kommentaar oor die video het ingestroom en landwyd sien baie dit as ’n rassistiese aanval op ’n lid van die verkeersdepartement.
Daar is egter ook kommentaar van diegene wat dit nie as rassisme beskou nie, maar eerder sê dat die lede van die verkeersdepartement glo nie respek verdien nie, of selfs daarvoor gesoek het. Een kommentaar is dat verkeersbeamptes deesdae baie arrogant is. Volgens Maphosa is die stadsraad baie ontsteld oor die voorval en gaan hulle saam met die polisie werk om die oortreders vas te vat. Klagte van aanranding, crimen injuria, verhindering van ’n wetstoepassingsbeampte om sy pligte uit te voer, versuim om ’n bestuurslisensie te toon en die verlating van die misdaadtoneel is teen die mans gelê. “Ons prys ons verkeersbeamptes vir hul selfbeheersing tydens hierdie geweldige provokasie. Die munisipaliteit sal hulle van die nodige ondersteuning en berading voorsien,” sê Maphosa. Volgens die Noordwes Polisie is die twee mans op die video nog nie geidentifiseer nie, maar die saak word ondersoek.



