
Nols Swanepoel skryf:
Ek stel voor dat daar in die soeke na ’n nuwe naam vir die twee stadsrade wat saamgesmelt het, na die omgewing en natuur gekyk moet word.
Beweeg weg van die riviername, want hulle is net te sterk lokaal gebonde.
Ventersdorp het sy eie rivier en so ook Potchefstroom.
As die natuur as uitgangspunt gebruik gaan word is daar maar net een naam wat bo almal uitstaan.
Kom jy van Ventersdorp, Parys, Johannesburg, Klerksdorp en Viljoenskroon, sien jy iets wat jou oog vang.
As jy in Potchefstroom na die weste kant kyk sien ’n mens dit ook raak. Dit staan daar met ’n skerp punt wat wys na bo. Dit is Spitskop in Afrikaans.
Dit is Tshupane in Setswana.
Almal, ja almal van ons swart gemeenskap weet daarvan en ken dit as Tshupane. Dit is ’n spits wat na die hemel uitreik.
Uit ’n geloofshoek is dit ook toepaslik want dit laat ’n mens na bo kyk. Almal kyk mos na bo.Dit is mos waar ons almal hulp gaan soek.
Ek stel dit as naam voor, want dit laat die voete na die nuwe wêreld aanstap.
Ook is die geloofshoek ’n groot oorweging.
Dit word ook maklik uitgespreek. Dit is maar net: TSHUPANE.
(Nols het Tswana aan die Puk doseer. Red).
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!



