
Hoewel daar sowat 150 verkeerstekens weg of beskadig is in Potchefstroom, is dit steeds elke motoris se verantwoordelikheid om behoorlik op die uitkyk te wees om ongelukke te voorkom.
Sowat ‘n maand gelede is ‘n student deur ‘n vragmotor van haar motorfiets afgery terwyl sy by ‘n stopstraat gestop het. Die student, Christine Meyer vermoed dat die bestuurder van die vragmotor nie geweet het dat dit ‘n stopstraat is nie, aangesien die stopteken nie behoorlik gesien kan word nie, en daarom nie betyds spoed verminder het nie.
Talle mense het verkeerstekens wat skort aan die Herald gerapporteer.
Volgens Clarissa Pienaar, ‘n plaaslike prokureur wat met eise voortspruitend uit motorongelukke werk, kan die plaaslike owerheid aanspreeklik gehou word vir ongelukke wat veroorsaak is deur die afwesigheid van verkeerstekens, juis omdat die doel van verkeerstekens daarop gerig is om verkeer veilig te reguleer en ongelukke te voorkom.
“Die afwesigheid van ‘n verkeersteken skep ‘n gevaar en as dit onverwags is, en ‘n motoris nie redelikerwys voorkomend kon optree nie, kan die versuim van die plaaslike- of provinsiale owerheid om binne ‘n redelike tyd nadat hulle bewus geword het van ‘n verwyderde verkeersteken, aanspreeklik gehou word vir skade, verlies, beserings of dood, wat uit ‘n ongeluk of botsing mag voortspruit,” sê Pienaar.
Sy sê ook dat hoewel verkeerstekens mag ontbreek, elke motoris steeds die regsplig het om ten alle tye ‘n behoorlike uitkyk te hou en rederlikerwys ongelukke te voorkom. “Indien ‘n persoon in aantog tot ‘n kruising sou sien dat ‘n ander motoris ‘n rooi lig of ‘n stopteken gaan ignoreer en dit moontlik is om ‘n botsing te vermy, sal daar regtens van die persoon wat die ongeluk redelikerwys kan vermy, verwag word om voorkomend op te tree, selfs al het die ander persoon nie die reg van weg gehad nie.”



