Woensdag was ’n hartseer dag vir Afrikaans toe die bekende Suid-Afrikaanse skrywer, dramaturg en akademikus, dr. PG du Plessis, na ’n siekbed in Potchefstroom gesterf het. Du Plessis (Pieter Georg) sou op 14 Julie sy 83ste verjaarsdag gevier het, maar het die afgelope paar jaar teen prostaatkanker geveg. Hy is in die Vrystaat gebore en het in 1955 sy B.A.-graad in Afrikaans-Nederlands en Geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria verwerf, waarna hy ook later sy doktorsgraad voltooi het.Hy het vanaf 1980 tot sy dood saam met sy vrou Marie, op hulle plaas in Rysmierbult gewoon, waar hy besig was om te werk aan ’n draaiboek vir ’n fliek van sy drama Siener in die Suburbs, wat in 2015 tydens Aardklop op die planke was.
Dit het alles in 1969 begin toe hy sy eerste drama, Die nag van Legio, geskryf het wat die Hertzogprys in 1972, sowel as die WA Hofmeyr-prys in 1970, verower het.Daarna volg verskeie ander dramas insluitend Siener in die Suburbs, Plaston: DNS-kind, ’n Seder val in Waterkloof en Vereeniging, vereniging.Hy het ook verskeie rolprent draaiboeke vir onder andere Nag van die Ongenooides en Liewe hemel Genis, gepubliseer.
Hy het ook ’n groot bydrae op televisie gemaak, met sy bekendste televisiereeks Koöperasiestories en Spies en Plessis. Sy roman, Fees van die Ongenooides, is met die 2009 ATKV Prosaprys bekroon.In Oktober 2015 het Du Plessis vir die Herald gesê: “Vir ‘n skrywer is een ding belangrik: hou die drama,” en hy het werklik die drama deur sy lewe behou.
’n Mede-skrywer en goeie vriend van hom, prof. Hans du Plessis, vertel dat hulle vir 30 jaar vriende was en baie stories gedeel het.“Hy was ’n verskriklike lojale vriend en het altyd tyd gehad vir mense,” sê hy.
Prof. Hans sê dat hy vanselfsprekend ’n baie goeie skrywer was en dat sy dood ’n groot terugslag vir die literatuur is.
“Hy het my verskriklik baie van skryf geleer en ons het altyd mekaar se goed gelees.”
Hy sê dat hy Feast of the Uninvited gelees het toe Du Plessis dit pas begin skryf het en vir hom gesê dat hy dié boek in Afrikaans moet skryf.
Du Plessis se afsterwe laat ‘n leemte in die Afrikaanse literatuur en hy en sy skryfwerk sal gemis word.
Hy laat sy vrou Marie, seun Frits en dogter prof. Marita Carnelley agter.
Die diens vind plaas op Dinsdag 13 Junie om 11:00 te NG Kerk Potchefstroom-Noord en word waargeneem deur ds. Johan Raubenheimer.



