‘n Puk-student, Esmarié Reyneke, het verlede week kafee toe gery om iets te koop om te eet, maar wat op haar gewag het, was ‘n nagmerrie wat sy nie gou sal vergeet nie.
Op Dinsdag 30 Mei net na 20:00 het hierdie derdejaar student in sportwetenskap met haar bromponie na die kafee op die hoek van Rissik- en Jack Hindon Cres gery om iets te koop om te eet. Toe sy daar kom was die kafee reeds toe.
“Die ligte binne was nog aan, so ek het seker net te laat daar aangekom.” Toe sy na haar bromponie terugstap, is sy met ‘n glasbottel oor die kop geslaan. Sy het op die grond geval met bloed wat in haar gesig afstroom.
“Ek het nie lekker geweet wat aangaan nie, en toe begin hulle my skop en op my skree dat hulle my foon en my beursie soek.”
Esmarié sê dat daar drie mans was wat moontlik in hul 30’s of vroeë 40’s is. Al wat sy by haar gehad het, was haar bankkaart. “Toe ek my kaart uithaal, toe raak hulle eers kwaad en vra ‘what the f**k must I do with this?’” sê sy.
Esmarié sê dat een van die mans haar kaart toe gegryp het en haar daarmee gegooi het.
“En toe skop een van hulle my agter my kop.” Sy het haar stem weggeskrik en kon nie skree om hulp nie, daarom het die personeel binne die kafee glad nie geweet wat reg buite die kafee besig is om te gebeur nie. Op daardie oomblik het sy gelukkig ligte aan die anderkant van die parkeerterrein gesien.
‘n Man in ‘n wit bakkie het oor die sypaadjie op die toneel afgejaag en die aanvallers het toe die pad gevat en in die veld daar naby verdwyn. Sy onthou dat die man vir haar gevra het of sy reg is, maar sy was baie deurmekaar en onseker oor wat pas met haar gebeur het. Esmarié sê dat die man aangebied het om haar na ‘n hospitaal te neem, maar sy wou eerder self met haar bromponie ry. Sy het haar serp teen haar kopwond gedruk om die ergste bloeding te stop, en het Mediclinic toe gery waar sy hulp ontvang het.
Sy moes steke in haar kopwond kry, het ‘n kneusing aan haar ribbes en agter haar kop, waar sy geskop is gehad, sowel as harsingskudding. “Toe hulle my gesig skoonmaak, toe haal hulle nog ‘n stuk glas uit die wond uit.”
“Ek het so groot geskrik ek het nie regtig geweet wat om te dink nie.

Ek wou net vir hulle gee wat hulle wou hê, sodat hulle my net kon uitlos.” Sy het tydens die voorval heeltyd gedink aan die Stellenbosch student wat op 27 Mei verkrag en vermoor is.
“Ek was so bang ek eindig iewers in ‘n kattebak op.”Esmarié het nie die saak by die polisie aangemeld nie, aangesien sy al voorheen aangeval is en die polisie volgens haar van geen hulp was nie. “Ek en van my vriende het by Potch dam gekamp, en toe ek die aand badkamer toe gaan, het ‘n ou my aan my hare gegryp en my kop teen ‘n spieël geslaan.”
Sy sê dat hulle daardie aand drie ure moes wag vir die polisie om op te daag, en toe sy vir hulle sê dat sy nie weet wie die man is wat haar aangerand het nie, het hulle blykbaar gesê dat hulle niks vir haar kan doen nie.
Esmarié sy is baie dankbaar vir die man wat haar gehelp het. “As dit nie vir hom was nie, weet ek nie wat met my sou gebeur nie. Ek weet nie wie hy is nie, maar wil vir hom baie dankie sê.”



