NewsNews

Herwin of sterf vir dié inwoners

Vlieë, plasse water, blikkies met ’n laaste slukkie alkohol, ’n onaangename reuk en trollies vol plastiek, papier en staal is hoe dié “werksplek” lyk – enige tyd van die dag wanneer mense wat ‘n lewe maak uit herwinning, kom inskaal. En as die horlosie smiddae vyfuur slaan, gryp dié informele herwinnaars vinnig ‘n trollie. Klaar …

Vlieë, plasse water, blikkies met ’n laaste slukkie alkohol, ’n onaangename reuk en trollies vol plastiek, papier en staal is hoe dié “werksplek” lyk – enige tyd van die dag wanneer mense wat ‘n lewe maak uit herwinning, kom inskaal.
En as die horlosie smiddae vyfuur slaan, gryp dié informele herwinnaars vinnig ‘n trollie. Klaar gewerk. Nou net vir vinnig in by die naaste winkel om self ’n mandjie of dalk ’n trollie vol kruideniersware te laai.

Hendrik Esterhuizen
Hendrik Esterhuizen
Johannes Maqhiba.
Johannes Maqhiba.

Vir talle inwoners van Potchefstroom is die informele herwinning van ander mense se afval die enigste manier om elke dag brood op die tafel te kan sit. Dis mense soos Richard Lomo, Johannes Maqhiba, Levy Mogari en Hendrik Esterhuizen wat hul trollies of fietse met DIY-mandjies op vir dié rede inspan.
Lomo probeer in gebroke Afrikaans by Ndivhumau Business Enterprise ’n lekker geselsie aanknoop, terwyl Maqhiba met ’n groot wit sak oor sy skouer staan en luister.

Richard Lomo.
Richard Lomo.“Ek het oor die naweek leë bottels vir ’n geldjie bymekaar gemaak. Julle moet vir daai ouens by die groot universiteit sê hulle moet die wit papiere vir my eenkant hou,” sê Lomo.

Hy weet goed waar Tomstraat (nou Steve Biko) is en is heeltemal bereid om van daar af met sy trollie na die herwinningsaanleg in die industriële gebied te stap. “Die mense moet maar net vir my laat weet en dan sal ek loop om die gebruikte papiere te kom haal,” sê Lomo.
By die Deswalner-herwinningsentrum kom ’n nou bekende gesig met ‘n taamlike spoed deur die swart hekke aangestap. Dit is wraggies wéér Maqhiba, dié keer met ’n propvol trollie.
“Ek is ’n oupa,” sê Maqhiba toe hy nader kom.
Omdat Maqhiba reeds al by Ndivhumau Business Enterprise raakgeloop is, word hy uitgevra oor waarom hy dan nou Deswalner besoek.
Hy wys na sy trollie en verduidelik dat die ander plekke nie karton en dié spesifieke tipe plastiek vir herwinning invat nie. Hy begin weer die gesprek voer waar hy dit gelos het en vertel verder van sy vyf kinders. Tog kan hy met trots net nie weglaat dat hy nóg vier kleinkinders ook het nie.
“Hulle kyk na hulself. Ek doen dié vir my om geld te verdien,” sê Maqhiba.

Levy Mogari.
Levy Mogari.

“Die kinders werk, maar jy weet mos hoe die goeters nou werk. Jy weet self, enige ding moet ek self dra. Ja, deur hierheen te kom kry ek darem iets. Ek sal nou maar moet gaan kyk hoeveel ek gaan kry,” het Maqhiba gesê en verder sy trollie in die groot skuur gestoot.
Herwinnaars hoef nie net plastiek, karton en glas in te samel nie. Staal kan ook herwin word, maar moet eers deur die bestuur van die herwinningsentrums goedgekeur word. Die goedkeuringsproses behels dat die individue die kwaliteit van die staal bepaal, om te verseker dat diefstal uitgeskakel word.
Levy Mogari en Hendrik Esterhuizen het elk met hul fietse by MC Mico Skrootwerf ingekom, gereed om hul mandjies vol staalgoedere in te skaal.
Mogari maak al vir tien jaar ’n inkomste deur informele herwinning.
“Ek doen dit vir die geld. Ek gaan seker so R8.00 kry. Ek het die blikkies daar in die dorp gaan kry. Ek krap dit maar uit die plastieksakkies, elke dag,” het Mogari gesê.
Esterhuizen het sy vasgemaakte mandjie agterop sy fiets probeer oop ruig ná Mogari sy gewigstrokie ontvang het.“Dit is staal. Ek bring dit om brood en goeters vir die huis te koop. Ek kry die staal langs die pad. Ek tel dit op. Ek doen dit nou nie so lank nie, omtrent vir so ’n jaar. Ek kry dit maar net in die hande om kos vir die kinders te koop,” het Esterhuizen gesê.
Beide Mogari en Esterhuizen het toe na die besigheid se venster, met veiligheidsdiefwering op, beweeg om hul strokies in te handig in ruil vir ’n meer waardevolle en gekleurde stukkie papier.
Mogari het op die ou einde R17 ontvang en hy sê dat hy nie ander goed soos melk kan koop nie, maar as hy wel net ’n brood vir die maag kan koop, is dit nie sleg nie.
Esterhuizen het sowat R60 ontvang en sê dat hy darem ’n brood, koffie en melk kan koop.
Die vier informele herwinnaars verteenwoordig slegs ’n handjievol van die groep wat hul daaglikse inkomste deur ander mense se uitskot verdien.

Richard Lomo.
Richard Lomo.
Levy Mogari.
Levy Mogari.
Hendrik Esterhuizen
Hendrik Esterhuizen

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button