Potchefstroomse pop nou Binnelanders ster
Ons eie Potchefstroomse jong aktrise, Le-anche van den Berg, het onlangs die rol van klein Nina in die treffer-sepie Binnelanders, begin vertolk nadat die oorspronklike Nina Jonker, wat gespeel is deur Lumé Voster, in 2015 na Australië geëmigreer het. Nina Jonker is verpleegster Daleen Jonker (Desiré Manthey) en dr. Tertius Jonker (Reynhardt Hugo) se dogtertjie …
Ons eie Potchefstroomse jong aktrise, Le-anche van den Berg, het onlangs die rol van klein Nina in die treffer-sepie Binnelanders, begin vertolk nadat die oorspronklike Nina Jonker, wat gespeel is deur Lumé Voster, in 2015 na Australië geëmigreer het.
Nina Jonker is verpleegster Daleen Jonker (Desiré Manthey) en dr. Tertius Jonker (Reynhardt Hugo) se dogtertjie wat van tyd-tot-tyd op die toneel kom kuier. In Januarie kon Le-anche op televisieskerms landwyd gesien word, waar sy die rol vertolk asof sy werklik Nina is. Mens sal dink dat sy al van die begin af die rol vertolk, want dit pas haar soos ‘n handskoen.
Le-anche, wat op 29 Julie ses word, en ‘n graad R-leerling van Woel en Werskaf, is al van babatyd reeds gewoond aan die kollig. Haar gesig het reeds in die Herald verskyn met die babakompetisie in 2012 waarin sy derde gekom het.
Sy was ook die Augustus maandwenner van die Babyface SA kompetisie in 2015. Dit is toe dat haar ma, Angelique van der Berg, besluit het om Le-anche voltyds te laat deelneem aan skoonheidskompetisies en modelwerk. Sy het al aan verskeie modelkompetisies deelgeneem en amper elke keer op die podium geëindig. Dis hier waar sy Bianca van Perfection Models ontmoet het. Bianca het my van die begin af ondersteun en ook vertel van die International Arts Talent Showcase (IATS) kompetisie.
“Van kleins af het almal vir my gesê hoe ‘n mooi gesiggie sy het, maar ek het geweet sy is beskore vir meer,” sê Angelique. Sy het Le-anche geneem om ‘n oudisie te doen vir IATS, wat deur Just You Models aangebied is, en dit was die draaipunt in die peuter se lewe. Angelique het tydens hierdie oudisies vir Elsubie Verlinden, direkteur van die agentskap ontmoet, wat toe vir haar vertel het dat Binnelanders ‘n nuwe Nina soek en dat sy graag Le-anche wil deel maak van hul agentskap en vir die oudisies wil stuur.
“Hierdie was nie toevallig nie. Le-anché en Nina is op dieselfde tyd gebore, en ek het tydens my swangerskap nie een episode van Binnelanders gemis nie.” Angelique het haarself baie vereenselwig met Daleen toe Nina gebore is, en daarom voel sy dat hierdie bedoel was om te gebeur. “Alles wat oor haar pad gekom het, was God se wil. Dit het uitgewerk soos wat Hy wou hê dit moes,” sê sy.
Le-anche het ook die rol onmiddellik aangeneem as haar eie, en speel ‘n natuurlike rol as Nina. “Sy het die tekste in japtrap geleer en geken. Toe hulle sê dat Le-anche die rol gekry het, was dit amper vir my onwerklik.”
Alhoewel Le-anche eers in Januarie vir die eerste keer as Nina op televisie verskyn het, het sy baie vinnig geheg geraak aan haar medespelers. “Sy het dadelik tuis gevoel.
Almal speel met haar en hulle laat haar gemaklik voel. Dis asof sy heel ander familie daar het,” sê sy, maar met die voorbereiding wat Le-anche gekry het, kan dit verwag word dat sy reeds soos Nina voel. Angelique het seker gemaak dat Le-anche al die karakters se name ken en weet wie elkeen is en waar hulle in die storie inpas.
Sy is gemaak vir die rol en sy het ’n passie daarvoor om saam met die ander karakters te speel. “Hulle is vreeslik lief vir haar en baie erg oor haar. Hulle is soos haar familie.”



