Selfregulasie – hoekom en hoe?
… daardie tye waarin jy jou “cool” verloor, of jou @*&! gestrip het, wat gelei het tot spyt of ‘n skuldgevoel, wanneer jy uiteindelik later kans gehad het om oor die situasie en jou reaksie daarop, na te dink. Ons ken almal hierdie verskynsel maar al te goed… Die kuns is egter om emosionele regulasie …

… daardie tye waarin jy jou “cool” verloor, of jou @*&! gestrip het, wat gelei het tot spyt of ‘n skuldgevoel, wanneer jy uiteindelik later kans gehad het om oor die situasie en jou reaksie daarop, na te dink. Ons ken almal hierdie verskynsel maar al te goed… Die kuns is egter om emosionele regulasie op bewustelike vlak te leer bestuur. Dit beteken onder geen omstandighede dat jy nooit weer jouself in ‘n bovermelde situasie gaan bevind nie en beteken ook nie dat jy jou emosies moet probeer beheer of ignoreer, deur dit bloot net in jou binneste te onderdruk nie. Indien jy dit wel doen sal jy pynlik bewus word van die negatiewe fisiologiese nagevolge wat hierdie onderdrukking inhou, soos bv. ‘n kloppende, meester van ‘n hoofpyn nadat jy jou bloedig vererg het. Prof. Karel Botha van die NWU Potchefstroom, is die voorloper van navorsing m.b.t. selfregulasie in Suid Afrika. Hy verwys in sy literatuur na die voordele wat suksesvolle selfregulasie vir die individu inhou, wat o.a. effektiewe besluitnemingsvermoë, suksesvolle tydsbestuur, beter probleemoplossingsvaardighede en konflikhantering, positiewe verandering in jou verhouding met jouself en met ander, verhoogde deursettingsvermoë gepaardgaande met verminderde geneigdheid om uit te stel, ens. insluit. ‘n Praktiese wyse waarop jy spesifiek jou emosionele-selfregulasie kan verbeter:

Wanneer jy dink aan ‘n situasie waarin jy oorreageer het, vra jouself die volgende vrae:
– Wat was die emosionele sneller, wat tot my heftige reaksie gelei het?
– Wat was my interpretasie, persepsie en aannames voor en tydens die situasie?
– In eerlike en objektiewe retrospeksie:
* was my reaksie, interpretasie, persepsie en aannames werklik realisties, en gebasseer op feite?
* was my optrede korrek, asook konstruktief bydraend tot positiewe groei vir myself en die ander party?
– Indien nie, evalueer jou optrede krities, besluit hoe jy in die vervolg jou gedrag, persepsies en aannames gaan aanpas om jouself en ander betrokke partye te bevoordeel en pas jou doelwitte ten opsigte hiervan doelbewus toe.
Onthou dat emosionele regulasie ‘n aaneenlopende proses van toetsing, evaluering en aanpassing is. Jou fenominale menslike vermoë om oor jou gedrag, denke en emosies te reflekteer en daarna die nodige positiewe aanpassings d.m.v. effektiewe, deurentydse doelwitstelling en doelwitbereiking, te kan maak, plaas jou in die optimale posisie vir positiewe groei en ontwikkeling.
Vir meer inligting, vrae of voorstelle, rakende aktuele psigiese en sosiale aspekte, stuur gerus ‘n e-pos na born2bmore101@gmail.com,



