Dringende hofaansoek van munisipale bestuurder oor kontrak misluk
Die munisipale bestuurder, dr. Nomathemba Blaai-Mokgethi, het Dinsdag ’n dringende hofaansoek voor die Mmabatho hooggeregshof gebring om ’n interdik teen die LUR se onlangse besluit te verkry dat haar kontrak einde Augustus beëindig moet word.
Die munisipale bestuurder, dr. Nomathemba Blaai-Mokgethi, het Dinsdag ’n dringende hofaansoek voor die Mmabatho hooggeregshof gebring om ’n interdik teen die LUR se onlangse besluit te verkry dat haar kontrak einde Augustus beëindig moet word.
Die aansoek het met koste misluk. Die LUR vir plaaslike regering en menslike nedersettings, Galaletsang Gaolaolwe, het twee weke gelede ’n brief aan die kantoor van die burgemeester gestuur waarin sy aanvoer dat die kontrak van die munisipale bestuurder verkeerdelik tot in 2018 vasgestel is.
Volgens die brief moet die kontrak teen Augustus vanjaar tot ’n einde kom.
Die brief lees verder dat die persoon wat verantwoordelik is vir die fout persoonlik aanspreeklik gehou moet word vir enige finansiële verlies wat die munisipaliteit kan ly.
Die burgemeester het die aanstelling van die munisipale bestuurder geteken.
Die Herald het op 4 Julie ’n afskrif van dié brief bekom.
By navraag het die burgemeester se woordvoerder, Victor Boqo, toe gesê die burgemeester het nog geen so ’n brief ontvang nie.
Ben Bole, woordvoerder van die LUR, het egter aan die Herald bevestig dat die brief gestuur is.
Boqo het daarna steeds aangevoer dat dit nie ontvang is nie.
Boqo het ’n paar dae later gesê die burgemeester het die brief eers 13 Julie ontvang.
In ‘n e-pos van Errol Temanie, vorige bestuurder in die burgemeester se kantoor, gedateer 11 Julie, verwys hy egter reeds na dié brief wat deur die burgemeester se kantoor ontvang is.
Boqo het vandeesweek aan die Herald gesê hy kan tans niks oor die kontrak sê nie omdat dit nog voor die raad moet dien vir ’n besluit.
’n Raadsvergadering wat Woensdag 19 Julie sou plaasvind waarin die kontrak bespreek sou word, is gekanselleer.
Volgens Jeanette Tshite, munisipale woordvoerder, was daar kommer onder raadslede dat die ordereëls in die raad nie nagekom word nie.
“Daarom het die speaker dit goed gedink om die vergadering te kanselleer. Die DA en VF Plus het ook gesê dat hulle nie die vergadering gaan bywoon nie, omdat hulle bekommerd is oor veiligheid,” het sy gesê. Dit volg nadat die kontrak reeds veronderstel was om by ’n raadsvergadering op 12 Julie bespreek te word, maar glo van die agenda afgehaal is. Daarna is ’n spesiale raadsvergadering vir 14 Julie geskeduleer, maar wat toe deur ’n groep mense ontwrig is kort voor die kontrak bespreek kon word. Die DA se hoofsweep, Neels Coetzer, het in ’n brief aan die burgemeester en speaker gesê dat diegene wat die vergadering betree, aggressief en dreigend was en as gevolg daarvan is onbeskermde raadslede gedwing om die raadsaal te ontruim.
Daarom kon dringende sake wat die munisipaliteit kan benadeel nie bepreek word nie. Raadslede van verskillende partye het na die voorval kriminele klagtes van intimidasie by die polisie gaan lê. Ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n klag van intimidasie ondersoek word, maar dat niemand nog in hegtenis geneem is nie.
Volgens haar het die groep mense verby die sekuriteit gehardloop om toegang tot die raadsaal te kry.
Volgens Victor Boqo veroordeel die burgemeester dié voorval ten sterkste.



