Van Rooyen en kie hardloop Zimbabwe stukkend by Cravenweek
Die Luiperds se o.18 Cravenweek span het in hulle eerste wedstryd Dinsdag luidkeels gegrom met ‘n verwoestende 72-17 oorwinning teen Zimbabwe by vanjaar se o.18 Cravenweek. Dit word vanaf 17-22 Julie by St Stitihians-Kollege in Johannesburg gehou. Die Luiperd wat die meeste tande gewys het, was Hoër Volkskool Potchefstroom se trots, Hanru van Rooyen, wat …
Die Luiperds se o.18 Cravenweek span het in hulle eerste wedstryd Dinsdag luidkeels gegrom met ‘n verwoestende 72-17 oorwinning teen Zimbabwe by vanjaar se o.18 Cravenweek.
Dit word vanaf 17-22 Julie by St Stitihians-Kollege in Johannesburg gehou. Die Luiperd wat die meeste tande gewys het, was Hoër Volkskool Potchefstroom se trots, Hanru van Rooyen, wat die gesogte nommer 10 trui met lof gedra het. Van Rooyen se skopvoet was in die kol met sewe doelskoppe en ‘n strafskop, terwyl sy skoppe uit die hand ook net so voortreflik was.
Hy het ook twee keer onder die pale gaan kuier om sy puntetotaal na 27 punte vir die wedstryd te skuif en sodoende is hy as speler van die wedstryd aangewys.
Met dié losskakel as die kern van die Luiperds se aanval, het Zimbabwe geen kat se kans gestaan nie en moes telkemale sien hoe die Noordwesters hulle kanse met hardlooprugby verskeur.
“Die wedstryd was ongelooflik. Dit was net ‘n mengsel van hoendervleis en stres voor die tyd. Die rugby is net vinniger en op ‘n ander klas as gewone skolerugby.”
Die Zimbabwiese manne is hard en daar is geen maklike kanse nie. Na die eerste vyf minute het alles uitgewerk en dit is ‘n ongelooflike ervaring wat ‘n mens nie kan beskryf nie. Ek is net so geseënd om in die Cravenweek te kan speel,” vertel Van Rooyen.
Hy het ook in die wedstryd ‘n bandjie gedra waar daar “I am second” op staan wat as dryfkrag dien om nie hoogmoedig te raak nie en te weet waar die span se krag vandaan kom.
“’n Mens moet die Here eerste stel en jouself tweede. Alle eer aan Hom vir vandag se wen en alles in die lewe,” sê Van Rooyen.
Die Luiperds het altesaam 11 drieë gedruk en het na die wedstryd heel bo op die punteleer gelê. Potchefstroom Gimnasium se Arno Gustafson en Mitchelle van der Merwe het twee van hierdie drieë aangeteken, terwyl Lichtenburg se Lohann Jahns, en Bertru Jones met ‘n driekuns verder, indruk gemaak het. Hou gerus Potchefstroom Herald se webblad dop vir die nuutste Cravenweeknuus.
Foto’s: Sydney Seshibedi/Gallo Images







