
‘n Man het sy vrou aangerand na ‘n funksie wat hulle saam bygewoon het.
Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, was die twee saam by ‘n funksie toe die vrou vir haar man gesê het dat sy wil huis toe gaan.
“Hy het haar na bewering in die gesig begin klap toe hulle huis toe gery het,” vertel Manyoba.
Die aanranding het aangehou nadat hulle by hulle woonstel in Walter Sisulurylaan aangekom het, waar die man haar verder geslaan het, sy het om hulp geskree voordat hy haar grond toe geslaan het. Die bure het haar skree gehoor waarna hulle probeer help het.
Die vrou het haarself in die woonstel toegesluit maar die man het daarna die deur afgeskop waarna die aanranding voortgesit het.
“Hy het haar geslaan, geskop en selfs om die keel gegryp,” vertel Manyoba.
Volgens Manyoba word ‘n saak van aanranding ondersoek, maar nog niemand is in hegtenis geneem nie.



