
Die polisie het Woensdagoggend (26 Julie) twee mans in Sol Plaatjielaan in hegtenis geneem op aanklag van die besit van vermoedelike gesteelde goedere.
Volgens ao Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, is die twee mans in die straat opgemerk, waar hulle met verskeie rekenaar onderdele geloop het.
“Hulle het ‘n rekenaarboks, skerm en drade in hulle besit gehad,” vertel Manyoba.
Die polisie het die twee voorgekeer en gevra waar hulle die rekenaar gekry het. Volgens Manyoba het die verdagtes gesê dat die onderdele by ‘n stortingsterrein opgetel is.
“Hulle kon nie vir die polisie wys waar presies hulle die onderdele gevind het nie. Hulle het ook nie bewys gehad dat die rekenaar aan hulle behoort nie,” vertel Manyoba.
Die twee is in hegtenis geneem en ‘n saak van die besit van vermoedelike gesteelde goedere word ondersoek.




