Seun (6) verdrink in Potchefstroom Dam
Aden was saam met sy ma by ’n familie-reunie wat skielik vir almal in ’n baie donker dag verander het. Paramedici van ER24 het omstreeks 10:30 op die toneel gekom waar hulle Aden op die damwal gevind het. Volgens ER24 woordvoerder, Werner Vermaak, was ’n man in sy boot op die water toe hy die kind se liggaam in die water sien dryf het.
Seer en gebroke is net twee maniere om klein Aden Anthony se familielede te beskryf.
Hulle treur oor die lewe van dié sesjarige ‘sweetheart’-kind wat Saterdagoggend (2 September) in die Potchefstroom dam verdrink het.
Aden was saam met sy ma by ’n familie-reunie wat skielik vir almal in ’n baie donker dag verander het.
Paramedici van ER24 het omstreeks 10:30 op die toneel gekom waar hulle Aden op die damwal gevind het. Volgens ER24 woordvoerder, Werner Vermaak, was ’n man in sy boot op die water toe hy die kind se liggaam in die water sien dryf het.
Daar was niks wat paramedici vir Aden kon doen nie.
“Dit was so seer om sonder my seuntjie huis toe te gaan,” sê sy ma, Sonja Brits, wat saam met haar man, Basil en twee ander kinders in Ennerdale naby Johannesburg woon.
Aden se pa kon nie die naweek saam kom Potchefstroom toe nie, min wetende dat sy middelkind nie weer gaan huistoe kom nie.
“Hy vat dit baie swaar, maar saam is ons baie sterk,” sê Sonja. Sy sê wanneer hulle familie en vriende om hulle is is dit makliker en minder seer.
“Maar sodra ons alleen is is daar soveel dinge wat ons weer aan hom herinner,” sê sy.
Aden se boetie Ethan (13) en sussie Leandra (3) vat sy dood baie sleg. “Leandra mis hom veral baie. Hulle was beste maatjies en het altyd saam gespeel,” sê Sonja. Die gesin gaan berading ontvang om hulle deur die moeilike tyd te help.
Sonia beskryf Aden, wat op 10 Junie 2011 gebore is, as ’n seëning van die Here af. “Hy was ’n ‘sweetheart’-kind. Hy is by die huis gebore en was baie gesond en aktief. Hy was die lieflikste seuntjie.”
“Dankie vir almal se gebede en ondersteuning, dit maak ons sterker. Finansieel is ons nie baie sterk nie, maar deur die Here se genade kan ons hom op ’n mooi manier groet.”
Aden se begrafnis was Saterdag 9 September om 07:00 by die Shiloh Baptist Church in Ennerdale.




