Die gesloer met ontwikkeling in Potchefstroom het tot gevolg dat baie werksgeleenthede vir inwoners verlore kan gaan.
Die Herald het verlede week berig oor die Ruimtelike Beplanning en Grondgebruikbestuurswet (SPLUMA) komitee wat reeds vir twee jaar nie saamgestel is nie.
Volgens Dewald van Breda, voorsitter van die Potch-Tlokwe Sakekamer, is dit vir hulle ook ’n groot bekommernis dat daar nie meer werksgeleenthede vir inwoners is nie.
“Die sakekamer is pro-ontwikkeling en sal die munisipaliteit graag wil help om die situasie so gou as moontlik reg te stel,” het hy gesê.
Die sakekamer glo dat ontwikkeling voordelig is vir almal in die stad, deur werk te skep, die belastingbasis te verbreed en ook die ekstra inkomste vir die munisipaliteit uit dienste wat van ontwikkelings verkry kan word.
“Wanneer politiek betrokke raak by dié soort besluitneming, word dit gevaarlik. Die komitee moet a-polities wees,” het hy gesê.
Die Herald het ’n paar briewe onder oë gehad waar verskeie ontwikkelaars die burgemeester en munisipale bestuurder vra om die komitee so gou as moontlik saam te stel sodat broodnodige ontwikkeling nie onnodig sloer nie.
Verskeie ontwikkelaars het glo weens die gesloer al kop uitgetrek.
* Die Herald het verlede week berig dat ‘n vergadering vandag gehou word met die oog op die samestelling van die komitee.



