Luiperds en Griffons baklei Vrydag vir eerste plek
’n Titaniese stryd word tussen die Luiperds en Griffons hierdie komende Vrydag, 29 September in Klerksdorp by Hoërskool Klerksdorp se velde verwag. Die Luiperds het hulle onoorwonne 2017 Curriebeker Eerste Divisie-seisoen met ‘n taai 36-32 oorwinning teen Grens in Oos-Londen op Saterdag, 23 September voortgesit en sal die momentum teen Griffons in Klerksdorp wil voortbou. …

’n Titaniese stryd word tussen die Luiperds en Griffons hierdie komende Vrydag, 29 September in Klerksdorp by Hoërskool Klerksdorp se velde verwag.
Die Luiperds het hulle onoorwonne 2017 Curriebeker Eerste Divisie-seisoen met ‘n taai 36-32 oorwinning teen Grens in Oos-Londen op Saterdag, 23 September voortgesit en sal die momentum teen Griffons in Klerksdorp wil voortbou.
Trots, eer en albei spanne se onoorwonne rekords is op die spel hier en ‘n wen kan ‘n groot hupstoot en definitiewe tuis halfeindstryd vir een van die spanne beteken.
Altwee hierdie spanne is onoorwonne in die Curriebeker Eerste Divisie met die Griffons wat tans op 25 punte in eerste plek en die Luiperds met 23 punte in tweede plek op die punteleer lê.
Die Griffons speel uitstekende rugby en dit gaan ‘n monumentale poging vat vir die Luiperds om die Perstruie ore aan te sit.
Die Griffons se gevaarspelers is hulle agterste driehoek wat uit vleuels, Tertius Maarman en Vuyo Mbotho sowel as heelagter Selvyn Davids bestaan.
Verder voer hul losskakel Gaun Kotze die agterlyn met akkuraatheid en hy sal goed dopgehou moet word.
Kotze het vanjaar tot dusver 64 punte aangeteken en is die voorste puntemaker in die toernooi.
Die Luiperds kan op Jeandré Rudolph en hulle indrukwekkende pak staatmaak, met haker Dane van der Westhuyzen en stut Joe Smith wat vanjaar vir die Potchefstromers uitstekende seisoene ervaar. Agtsteman Rudolph is ook vanjaar se voorste driedrukker met agt drieë agter sy naam.



