
’n Man is Maandagaand in hegtenis geneem nadat hy omstreeks 23:00 ’n vermeende rower in Albert Luthulistraat geskiet het.
Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, was hulle besig met patrollie toe hulle tyding ontvang het van ’n skietvoorval op die Albert Luthulistraat-brug.
Die polisie het ’n man, wat ’n vuurwapen in sy besit gehad het, ondervra. Hy het erken dat hy ’n man geskiet het. Die 31-jarige man het verduidelik dat hy uit selfverdediging opgetree het.
Drie mans het hom na bewering probeer beroof terwyl hy oor die brug geloop het, waarna hy sy vuurwapen uitgehaal en een van die mans in die kop geskiet het. Hy is toe in hegtenis geneem.

Devan du Toit, ’n paramedikus en verpleegkundestudent, was saam met Dittmar von Zweel, ook ’n verpleegkundestudent, van die eerste mense op die toneel. Hulle het aanvanklik gedink dat die man raakgery is, maar later gesien dat hy geskiet is. Volgens hom het die man wat in hegtenis geneem is, aanhou hulp aanbied terwyl hulle die man behandel het. Hy het ook self die polisie en ambulans probeer skakel.
“Ek het eers besef dat hy die een is wat die man geskiet het nadat hy in hegtenis geneem is. Gelukkig het ek nie geweet dat hy ’n vuurwapen het nie. Ek dink ek sou die situasie baie meer stresvol ervaar het as ek geweet het dat hy reg langs my sit met die vuurwapen in sy baadjiesak,” het du Toit gesê.
Paramedici van ER24 het die man na Potchefstroom Hospitaal geneem. Die man wat geskiet het, word van poging tot moord aangekla.




