
Twee rowers het Woensdagoggend, 25 Oktober ’n vrou by ’n besigheidsperseel in Forsmanstraat met ’n vuurwapen gedreig, vasgebind en haar motor gesteel.
Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, het die vrou omstreeks 07:35 die perseel oopgesluit. ’n Man het die vrou binne die kantoor verras, waarna hy haar met ’n vuurwapen gedreig het. “Hy het geld by die vrou geëis. Daarna het ’n tweede rower wat ‘n mes gehad het, in die kantoor ingekom,” het Chaka gesê.
Die twee rowers het die vrou se hande en voete vasgebind en haar gesig bedek. Volgens hom het hulle het die kantoor deursoek en enkele items uit die kantoor verwyder.
“Hulle het die gesteelde goedere in die vrou se motor gelaai, waarna hulle gevlug het. ‘n Saak van besigheidsroof word ondersoek,” het hy gesê. Die vrou is deur ER24 na Mediclinic Potchefstroom geneem waar sy vir skok behandel is.




