NewsNews

Grypdiefbende slaan weer toe in sakekern

’n Groep grypdiewe wat in die stad se sakekern bedrywig is, het verlede week op nog ‘n slagoffer toegeslaan. Die Herald het in vorige uitgawes berig oor mense wat in die sakekern deur diewe geteiken word. Die modus operandi is dat een of twee verdagtes jou besig hou aan die bestuurder se kant van jou …

’n Groep grypdiewe wat in die stad se sakekern bedrywig is, het verlede week op nog ‘n slagoffer toegeslaan.
Die Herald het in vorige uitgawes berig oor mense wat in die sakekern deur diewe geteiken word. Die modus operandi is dat een of twee verdagtes jou besig hou aan die bestuurder se kant van jou voertuig, terwyl ‘n ander verdagte die passasierskant se deur probeer oopmaak.
Dit is veral vroue en bejaardes wat geteiken word deur hierdie diewe. Die nuutste voorval het op Woensdag 24 Januarie gebeur toe grypdiewe ’n man se selfoon uit sy sak gesteel het.
Volgens Herman Coetzer het ’n man hom in Sol Plaatjiestraat genader.
“Hy het my omhels en gesê ‘ek ken jou’, waarna hy my selfoon uit my hemp se sak gevat het. Ek het hom onmiddellik gekonfronteer.
Hy en sy makker wat hom gevolg het, het doodluiters oor die pad in die rigting van die taxi-staanplek gestap,” vertel Coetzer.
Volgens hom het hy hulle vir ’n entjie gevolg, maar omgedraai omdat dit te gevaarlik sou wees om hulle verder te agtervolg.
Asof dit nie erg genoeg was nie, het dieselfde twee mans weer vir Coetzer genader waar sy voertuig in die Wandellaan geparkeer was.
“Die een het my aandag afgetrek aan die bestuurder se kant, terwyl die ander een om die voertuig beweeg het aan passasierskant en in my voertuig gekyk het,” vertel hy. Volgens hom was hulle kleredrag anders. Gelukkig kon hy die deure betyds sluit.
“Hulle het weer doodluiters in verskillende rigtings weggestap. Die gemeenskap moet sulke voorvalle by die polisie aanmeld, moet dit asseblief nie net daar laat nie.
“Dit help om dié soort misdaad hok te slaan. Daar is reeds positiewe inligting rondom die verdagtes ontvang. Ons kan nie net toelaat dat hierdie barbaarse optrede so voortgaan nie. Ons as gemeenskap kan dit verminder deur dit aan te meld en mekaar in te lig oor die soort gebeure,” het hy gesê.
Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, is daar verskeie maatreëls wat inwoners kan toepas om veiliger te wees in dié gebied.
Volgens hom moet jou voertuig se deure ten alle tye gesluit en die vensters toe wees. Waardevolle items soos selfone, handsakke en skootrekenaars moet nie van buite die voertuig sigbaar wees nie.
Hy het inwoners gemaan om nie deure of vensters vir vreemdelinge oop te maak nie, selfs al sê hulle dat daar iets fout is met jou voertuig. In die geval van grypdiewe moedig hy mense aan om sover moontlik in groepe te beweeg.
“As jy vermoed dat jy agtervolg word, moenie huiwer om die polisie te skakel nie,” het hy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button