
’n Motordief het Vrydagaand deur die NWU Potchefstroomkampus se valhek in Esselenstraat gejaag.
Dit het gevolg nadat die verdagte ’n voertuig op die kampus gesteel het.
Volgens ’n student wat anoniem wil bly, is daar probeer om by drie voertuie in te breek.
Met die vierde probeerslag het die verdagte daarin geslaag om ‘n voertuig te steel. Volgens hom het die voorval in ’n parkeerarea naby twee manskoshuise gebeur.
“Daar is geen kameras in die area nie. Daar is ook geen elektriese heining op die palissade nie en ook geen beligting nie,” het die student gesê.
Volgens hom moet die NWU bestuur ingryp om dié area te beveilig.
* Volgens Louis Jacobs, NWU woordvoerder, geniet die voorval aandag deur die NWU in samewerking met die polisie.
“Hierdie is die eerste voorval van diefstal van ‘n motorvoertuig vanuit die kampusterrein sedert 2010,” het Jacobs gesê. Intussen word kameras nagegaan vir enige moontlike leidrade wat in die ondersoek kan help. Daar is ook ekstra patrollies deur die universiteit se beskermingsdienste geskep om veiligheid in die area op te skerp. Kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, het veral nuwe studente gemaan om seker te maak hulle voertuie is veilig.
“Diewe teiken nie net meer duur voertuie nie, maar ouer en goedkoper voertuie word ook nou gesteel,” het hy gesê.




