Diefstal van en uit motors teister Potchefstroom reeds vir ʼn geruime tyd en die polisie maak planne om dit hok te probeer slaan.
Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, is hulle besig om hul netwerk vir samewerking uit te brei. “Ons het reeds met inkopiesentrums wat hulle eie sekuriteit in parkeerareas het oor hulle karwagte gepraat. Dit was ʼn baie positiewe gesprek”, sê sy.
Volgens haar gaan hulle ook nouer met die NWU se Potchefstroomkampus se beskermingsdienste saamwerk.
Wat die Bult betref sê sy dat hulle van tyd tot tyd vingerafdrukke van karwagte neem. Hulle kan, indien daar van hulle by misdaad betrokke is, moontlik op dié wyse met die misdaad verbind word.
Tot dusver is nie een karwag met misdaad verbind nie,” het sy gesê.
Volgens haar is diefstal uit voertuie ’n groot bron van kommer en het inwoners gemaan om hulle voertuie se deure gesluit te hou en om nie vir onbekende mense oop te sluit nie. Voertuie moet ook toegesluit word in die aand.
Wanneer voertuie saans in die straat parkeer word, sê Manyoba moet dit in goedbeligte areas word.
Sy sê die polisie het die gemeenskap se hulp nodig in hul geveg teen diefstal en het inwoners, veral op die Bult, gemaan om enige inligting wat kan help om misdaad te bekamp, aan die polisie te gee.




